Dattie Barnard kom al die pad van Engeland vir die Ysterman 70.3.

‘n Bloemfonteiner Deon Barnard, sy broer, Dattie, en swaer Melius de Wet neem Sondag 16 November aan die Ysterman-70.3-kompetisie in Mosselbaai deel om geld in te samel vir die Vrystaat-nasorgsentrum.

Deon, die voorsitter van Vrystaat-nasorgsentrum se beheerliggaam, wil met dié uitdaging mense bewus maak van die sentrum wat ‘n tuiste bied vir volwassenes met intellektuele inperkings.

Benewens die 107 inwoners, is daar ook verskeie werkslokale waar 15 dagwerkers saam met die inwoners onder meer naaldwerk en houtwerk doen, asook in die bakkery bak en in ‘n werkswinkel onder meer help om produkte vir Avbob te lewer. Talle van die inwoners het nie meer familie nie en is in geheel afhanklik van ‘n staatstoelae.

Deon sê die idee om aan die Ysterman-kompetisie deel te neem, het tydens hul Desember-familiekuier in Brandon, Engeland, ontstaan.

“Ek en Dattie het sit en kuier en ons het gesels oor gesond wees en gewig verloor. Dattie het al drie keer meer as 30kg afgeskud en dit was weer tyd. Vir my ook.”
Hy vertel sy broer het in 2010 aan ‘n ysterman-byeenkoms deelgeneem en toe hy daarvoor geoefen het, het hy 30kg verloor. Hy het in 2012 leukemia gekry en het daarna weer gewig opgetel. Hy het weer deelgeneem en weer gewig verloor. “Sedert ons op 1 Januarie vanjaar begin oefen het, het Dattie al 43kg verloor en ek 17kg.”

Deon sê hoewel hy al halfmarathons en korter afstande gehardloop het, het hy nog nooit iets soos die ysterman aangepak nie.
Dattie, wat in Engeland woon, is reeds 13 jaar kankervry en gebruik elke geleentheid om terug te gee. “Hy is lief daarvoor om as hy aan sulke uitdagings deelneem, dit ten bate van een of ander organisasie te doen. Toe hy my vra vir wie ons gaan deelneem, was daar net een antwoord: Vrystaat-nasorgsentrum.”

Vir Deon is die voorbereiding uitdagend. “Ek gaan met vasbyt, geloof en toewyding my doel bereik,” sê hy. Hy se blote angs het hom aan die oefen gehou. “Angs het my laat hardloop, angs het my minder laat eet. Ons wil nie goed doen nie, ons wil net klaarmaak.”
Deon sê hy het talle vriende wat al aan dié soort driekamp-uitdagings deelgeneem het. “Hulle het vir my baie raad gegee.”

Sondag se Ysterman behels 1,9km se swem vanaf die historiese Santos-strand tot by De Bakke-strand, Van daar hardloop atlete na die oorgangsone waar hulle hul fietse kry vir ‘n roete van 90km van die strand binneland toe tot by Uitkyk op die Herbertsdalepad en terug. Dit is ‘n heuwelagtige landskap wat 1020 m styg.

Terug by De Bakke is die tweede oorgangsone waar atlete hul fietse bêre en begin met die wedloop oor 21.1km deur Mosselbaai tot by die Punt in drie rondtes.
Ondersteuners van die drie kan ‘n donasie maak op Vrystaat-nasorgsentrum se Facebookblad om ‘n donasie te maak of kliek hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article