’n Leerling van die Martie du Plessis-skool wat graag eendag ’n argitek wil word, gaan baat vind by ’n rugbyspan van die Laerskool Kenmare van Krugersdorp se Drieë vir Drome-projek.
Al die geld wat die rugbyspelers gaan insamel deur drieë te druk op Grey-kollege (primêr) se Superreeks wat vandeesweek in Bloemfontein beslis word, gaan geskenk word in ’n poging om vir Jabes Brenvin (Jay Bee) Farmer (14) ’n aangepaste rekenaar te koop om hom in sy studies te help.
Dié gr. 8-leerling van Martie du Plessis en sy gesin was in November 2021 in ’n motorongeluk waarin Jay Bee ernstige rug- en nekbeserings opgedoen het.
Ná die ongeluk is Jay Bee ’n kwadrupleeg met net beperkte beweging van sy linkerhand.
Francois van Heerden, skoolhoof van Martie du Plessis, sê ondanks Jay Bee se terugslag, is hy so ’n opgewekte kind. “Jay Bee het ’n baie goeie sin vir humor en jy sien hom altyd glimlag. Hy het so wonderlike positiewe gesindheid wat ’n mens inspireer.”
Van Heerden sê toe Elsabé Bell van Kenmare hom kontak om te hoor hoe hulle iemand by die skool kan help, het Van Heerden dadelik gesê Jay Bee het ’n groot behoefte aan ’n rekenaar wat sy lewe en studies gaan vergemaklik.
Van Heerden sê dit is so wonderlik hoe goed mense se harte is. Hy sê die Honey-prokureursfirma in Bloemfontein borg ’n tutor wat elke dag saam met Jay Bee skool gaan om hom te help.
Jay Bee sê hy hou die meeste van die vakke tegnologie en wiskunde en het van kleins af baie geteken en wil voortgaan daarmee. “Ek het my ouma se huisplanne geteken en hou baie van argitektuur. Ek sal baie graag eendag ’n argitek wil word,” sê hy.
“Ek is so dankbaar vir Kenmare se projek om te help en ek hoop hulle is gereed vir die rugby. Ek is gereed,” het hy vroeër in ’n video-boodskap aan die rugbyspelers gesê.
Kenmare is een van 44 spanne oor nege provinsies wat van Woensdag (29/03) tot Saterdag aan die toernooi by Grey-kollege gaan deelneem.
Dit is vanjaar die 23ste keer dat die toernooi vir o.13- en o.11-spanne by Grey aangebied word.
Die finaal in die kompetisie se o.13-afdeling word Saterdag om 10:45 beslis.
Jay Bee sê hy sien baie daarna uit die rugbyspan wat aan die Drieë vir Drome gaan deelneem en die skoolhoof, Wouter Immelman, die week te ontmoet.