Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste span mik na ’n derde titel agtereenvolgens in die Amanda Coetzer-tennistoernooi. Van links is Cara le Grange, Nestine van Rooyen, Nina Schimper (kaptein), MC Olivier (afrigter), Mia Schimper, Donna le Roux, Ansoné Theron en Ameli Bezuidenhout. Foto: Verskaf


Die eerste tennisspan van die Hoër Meisieskool Oranje sal probeer om twee ander skole na te doen deur die Amanda Coetzer-tennistoernooi ’n derde keer agtereenvolgens te wen. Die toernooi word van Donderdag 9 Mei tot Saterdag op Oranje se bane aangebied.

Met dié dat die toernooi ’n 25ste keer gehou word, is dit en een van die oudste skoletoernooie in die land.

Die Hoërskool Waterkloof (1998 tot 2000) en die Hoër Meisieskool Bloemhof (2001 tot 2009) is die enigste skole om drie jaar of meer ná mekaar koning te kraai.

Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste span mik na ’n derde titel agtereenvolgens in die Amanda Coetzer-tennistoernooi. Van links is Cara le Grange, Nestine van Rooyen, Nina Schimper (kaptein), MC Olivier (afrigter), Mia Schimper, Donna le Roux, Ansoné Theron en Ameli Bezuidenhout. Foto: Verskaf

Oranje was in 2022 en 2023 die kampioen. Dié span se mees onlangse nederlaag in die toernooi was teen Bloemhof van Stellenbosch, in 2019 se eindstryd. Daar was weens Covid-19 nie in 2020 en 2021 ’n toernooi nie.

Bloemhof is die mees suksesvolle span, met 14 titels, gevolg deur Oranje met ses.

Die toernooi, waaraan agt van die beste tennisskole vir meisies deelneem, dra die naam van Amanda Coetzer, ’n Oranje-oudleerling. Sy is Suid-Afrika se suksesvolste vrouespeler tot op hede en het in 1997 tot derde op die wêreldranglys gevorder.

Die toernooi het ook ’n o.15-afdeling, waarin Oranje se o.15A-span sy titel sal verdedig. Oranje was drie van die vorige vier keer die Amanda Coetzer-toernooi se o.15-kampioen.

Die plek wat deelnemende skole in 2023 in die o.19-afdeling behaal het, is:

  1. Hoër Meisieskool Oranje
  2. Rhenish Girls’ High School
  3. Hoër Meisieskool Paarl
  4. Hoër Meisieskool Bloemhof
  5. Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria
  6. Paarl Gimnasium
  7. Hoërskool Menlopark 
  8. Hoërskool Waterkloof

You need to be Logged In to leave a comment.