’n Koffiewinkel by die Martie du Plessis-skool bied nou die geleentheid vir naskoolse jongmense met spesiale behoeftes om opleiding te ontvang sodat hulle in vaardighede opgelei kan word.
Cornelia Deacon, ’n arbeidsterapeut by Martie du Plessis se spesiale klas, het die behoefte raakgesien om aan oudleerlinge en ander naskoolse jong mense vaardighede te leer.
’n Oudleerling, Inge Pieterse wat in 2014 aan die skool gematrikuleer het en al vir sewe jaar by die skool betrokke is, is aangestel as die bestuurder.
Die koffiewinkel, Special Blends, het verlede jaar geopen, maar die opleiding van ses jong mense wat geïdentifiseer is, het hierdie kwartaal begin.
“Elkeen van hulle het spesiale talente wat ons sal ontgin,” sê Deacon. “Sommige sal opgelei word as baristas en kelners. Dit is belangrik dat ons binne hul vermoë hul vaardighede sal ontwikkel sodat hulle praktiese ondervinding het om te gaan werk.”
Die winkel behoort aan James Malan van Spronk Coffee. Saam met hom help Thabo Kheleroa, wat in 2018 die Vrystaatse Barista-kampioenskappe gewen het, om die opleiding by Special Blends te doen.
Een van die studente is Nina Neethling, ’n oudleerling wat in die spesiale klas by Martie du Plessis was. Sy is gebore met William-sindroom wat ’n abnormale chromosoom-afwyking is. Sy bly deesdae in die Bayswater-aftreeoord.
“Ek is opgewonde om hier te leer,” sê Nina. “Ek hou baie van mense en wil hulle graag bedien en laat goed voel.”
Elk van die ses studente sal ’n dag in die week ’n beurt kry om opleiding hier te ontvang.
Benewens die onderwysers wat graag hier kom inloer vir iets te ete en lekker koffie, is die koffiewinkel oop aan die publiek.
“Ons nooi die publiek om die winkel te ondersteun om van dié projek ’n sukses te maak,” sê Deacon.