Die water in die Mangaung-metro word volgens Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS) se maatstaf vir gehalte gemonitor.
Qondile Khedama, woordvoerder vir die metro, het Sondag (28/05) in ’n nuusverklaring gesê die stad se watergehalte vir menslike gebruik word daagliks geanaliseer en die watergehalte in reservoirs word gereeld gemonitor.
“Die stad se water voldoen aan SANS 241, wat die standaard-meting vir water vir menslike gebruik en kraanwater is.”
Khedama sê dié versekering kom ná publieke kommer oor gevalle van cholera wat in Hammanskraal, Parys en Vrede aangemeld is.
“Die metro het ’n gereelde onderhoudprogram wat daarop fokus om reservoirs skoon te maak en toe te sien dat die water van goeie gehalte is en veilig is vir menslike gebruik.”
Hy sê onderhoud op die hoofwaterlyn van De Hoek/Uitkyk, Dan Pienaartoring en die nuwe Arboretum-reservoirs asook Tabali/Motlatla-kanale is oor die tydperk van 3 tot 17 Mei gedoen.
“Waar watertenks na die gemeenskap geneem is tydens onderbreking van watervoorsiening, is die water onttrek van sekere punte waar die water veilig is vir menslike gebruik.”
Khedama maan mense om goeie higiëne-praktyke toe te pas om te keer dat hulle die siekte opdoen.