Bestuurders en eienaars van gastehuise in Roodewal is woedend nadat hul gaste gister en vandag sonder water oor die weg moes kom.
Dit omdat ’n waterlek, waaroor Bloemnuus reeds in April berig het en uiteindelik herstel is, wéér begin lek het en gastehuise in die omgewing sedert Woensdag sonder water gelaat het weens werk wat daaraan gedoen moes word.
Andrea Bradfield van Kopano Nokeng, sê sy het Woensdag oral rondgebel om die Mangaung-metro van die probleem in te lig. “Kontrakteurs het gister ná 10:00 hier aangekom en die water na die hele gebied toegedraai sodat hulle aan die pype kan werk. Daarna het ons die hele aand geen water gehad nie.”
Bradfield sê daar is nou 150 gaste by dié lodge wat sedert Dinsdag (05/07) daar ’n konferensie bywoon. “Hulle het die water vanmiddag vir ongeveer ’n uur oopgedraai sodat die konferensiegangers net die badkamers kon gebruik.
“Ons het reeds vroeër die jaar gaste verloor omdat hier nie water was nie,” sê Bradfield.
Al tien dié gastehuis se kamers is van Vrydag af vol bespreek vir die rugbytoets tussen Suid-Afrika en Wallis en gaste kan ook nie iewers anders heen gaan nie omdat al die gastehuise in Roodewal en ook oor die stad heen volbespreek is.
DA-raadslid Mokgadi Kganakga het haar bes probeer om die probleem so vinnig moontlik onder die aandag van die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, te kry. Teen Donderdag 15:00 het sy laat weet dat hy en ANC-lede op pad was na die waterlek.
“Blykbaar het die kontrakteer wat aangestel is nie geld gehad om ’n nuwe klep te koop om die waterlek te herstel nie. Die burgemeester en ANC-lede het hulle na die toneel gehaas om self toe te sien dat die lekplek herstel word.”
Bradfield sê hulle voel uiters sleg omdat die gaste van oor die land heen so ’n slegte ervaring van Bloemfontein het.
“Ons wil Bloemfontein as bestemming bevorder, maar die munisipaliteit laat ons in die steek,” het sy gesê
Sy sê Siyonzana het met haar gesels en gesê dat hy ’n vergadering met mense in die omgewing wil belê.
Belinda Neethling, algemene bestuurder van die Rhino Creek-landgoed, sê hul gaste het reeds van Woensdag af hier aangekom. Ook hulle is vol bespreek met gaste wat die toets kom kyk.
“Vanoggend kon gaste nie eers stort nie. Hierdie probleem kos ons baie geld en skep ’n groot verleentheid.”
Sy sê hulle sukkel al lank met waterprobleme. “Dit is onaanvaarbaar.”
Teen 16:00 het die water baie stadig begin deurkom, maar gastehuiseienaars was nie seker of daar genoeg water sou wees vir toilette en vir gaste om te kan bad of stort nie.