Droom herleef as album

Ses Bloemfonteiners wat aanvanklik net bymekaargekom het om jeug-musiekbediening vir die Therapéa Volle Evangelie kerk te doen, stel gee binnekort hul eerste album bekend uit.


Ses Bloemfonteiners wat aanvanklik net bymekaargekom het om jeug-musiekbediening vir die Therapéa Volle Evangelie kerk te doen, stel gee binnekort hul eerste album bekend uit.

Franko van der Vlies, die jeugleier by dié kerk in Fichardtpark, vertel hulle het aanvanklik besluit om ’n aparte jeug-orkes vir aanddienste te stig.

“Aan die begin van 2020 toe ons besluit het om ’n fokus op jongmense te doen, was daar net so nege jongmense in die aand. Met die orkes wat bymekaar gekom het om lekker musiek te maak, het die getalle geleidelik vermeerder en is daar nou sowat 50 jongmense wat gereeld aanddienste bywoon. Daar is ’n heerlike gees onder die jongmense. Ons as musiekgroep het ook ’n hegte vriendskap ontwikkel.”

Franko speel tromme en elektriese kitaar en sy broer, Rikus kitaar.

Die uitdaging was om nog mense te kry om instrumente te speel.

Franko het vir Vianca de Meillon leer tromme speel en Christian Venter is die baskitaarspeler, terwyl Lene Ludick kitaar speel. Rikus en Simonay Harms is die sangers van Herleef.

Franko sê die Here maak nie altyd bekwame mense beskikbaar nie, maar beskikbare mense bekwaam.

“Dit is wat hier gebeur het.”

’n Wonderlike uitvloeisel van die jeugbediening was toe hulle begin het om hul eie liedjies te skryf.

“Ons het eers net ’n droom gehad,” vertel Rikus.

“Wat as ons teen die einde van 2022 vier liedjies kan skryf?”

Teen Desember het hulle ses liedjies voltooi en teen Januarie het hulle tien liedjies gereed gehad en dit laat opneem.

Rikus, wat agt van die liedjies geskryf en getoonset het, beskryf die liedjies as digterlike alternatiewe Afrikaanse gospelmusiek.

“Ons dink daar is ’n groot behoefte aan sulke musiek. Die woorde is vir ons die belangrikste deel van die liedjie. Ons sing eintlik vir ’n gehoor van Een.”

Vianca sê dit gaan nie altyd maklik nie.

“Die Here lig ons op as ons soms wankel en dinge nie werk soos ons gedink het nie.”

Die nuwe album, Die Herleef Ervaring, met die tien liedjies word by ’n spesiale geleentheid op Saterdag 15 April by Therapéa bekend gestel. Die vertoning begin om 18:00. Kaartjies kos R50 en is by die kerkkantoor beskikbaar. Die album sal ook dan te koop wees.

You need to be Logged In to leave a comment.