Jay Bee Farmer wys hoe hy werk op sy nuwe tablet, wat spesiaal vir hom aangepas is, voltooi. Hy het die tablet Dinsdag (22/08) in ontvangs geneem danksy ’n skenking van die Laerskool Kenmare. Foto’s: Lientjie Mentz

’n Droom wat in Maart met ’n paar drieë op die rugbyveld begin het, het Dinsdag (22/08) ’n werklikheid geword toe Jay Bee Farmer, ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Martie du Plessis, ’n splinternuwe tablet ontvang het.

Die rugbyspelers van die Laerskool Kenmare in Krugersdorp het die uitdaging aanvaar om in Maart tydens Grey-kollege (primêr) se Super-reeks soveel drieë as moontlik te druk.

Ondersteuners van die skool het die Drieë vir Drome-projek ondersteun deur die span te borg vir elke drie wat in die toernooi gedruk is

Peter du Toit, Kenmare se bemarker en sportbestuurder, sê die seuns het uiteindelik 45 drieë in die toernooi gedruk en so R18 000 vir die projek ingesamel.

9

Jay Bee Farmer (voor) het Dinsdag (22/08) sy nuwe tablet in ontvangs geneem. By hom is van links Wouter Immerlmann (skoolhoof van Laerskool Kenmare), Francois van Heerden (skoolhoof: Martie du Plessis) en Jay Bee se pa, Melvin Farmer.

“Daarna het ons jagpakette opgeveil om die bykomende sowat R30 000 in te samel.”

Jay Bee en sy gesin was in November 2021 in ’n motorongeluk waarin hy ernstige rug- en nekbeserings opgedoen het.

Ná die ongeluk is Jay Bee ’n kwadrupleeg met net beperkte beweging van sy linkerhand. Hy is die afgelope agt maande ’n leerling van Martie du Plessis en wil graag ’n argitek word.

Wouter Immelman, skoolhoof van Kenmare, en Du Toit het Dinsdag van Krugersdorp na Bloemfontein gereis om die rekenaar aan Jay Bee by die skool te kom oorhandig.

Du Toit sê hulle het van Jay Bee te hore gekom en die Here het dit op hul hart gelê om hom te help.

Jay Bee Farmer (regs) het Dinsdag (22/08) sy nuwe rekenaar ontvang. Hier wys Helena Vermeulen (arbeidsterapeut by Martie du Plessis) vir Peter du Toit (bemarker by Kenmare) hoe Jay Bee se rekenaar werk terwyl Kenmare se skoolhoof, Wouter Immelman ’n video-opname maak.

Francois van Heerden, skoolhoof van Martie du Plessis, het Kenmare bedank vir hierdie besonderse projek.

“Ons wil vir Jay Bee so onafhanklik as moontlik maak. Nie net om sy skoolwerk te doen nie, maar met alle hulpmiddels wat ons kan kry. Nie net vir nou nie, maar ook vir sy studie ná skool.”

Hy sê danksy die Drieë vir Drome-projek, kon hierdie droom vir Jay Bee waar word.

Helena Vermeulen, arbeidsterapeut by Martie du Plessis, het vir Jay Bee touwys gemaak oor die gebruik van die tablet. Sy het Dinsdag ook vir leerlinge van Martie du Plessis vertel dié tablet is spesiaal vir Jay Bee gebou om aan sy unieke behoeftes te voldoen.

“Ons fokus op alles wat Jay Bee kan gebruik – soos sy kop, skouer en een hand. Hy dra ’n monitor voor sy oë wat as ’n muis dien waarmee hy die merker met die beweeg van sy kop kan skuif.

“Op sy lessenaar wat deel van sy rolstoel vorm, het hy ’n klieker waarop hy liggies met sy regter wysvinger kliek om iets te kies.”

Dié tablet is ook aangepas om stemopdragte te neem.

Renier Jansen, Jay Bee se klashulp wat vir hom met klaswerk en huiswerk help, sê Jay Bee leer vinnig en hy het al lekker op die tablet rondgespeel.

Jay Bee se ouers, Melvin en Brenda Farmer, sê die tablet is ’n wonderlike hulpmiddel vir hom en hulle is baie dankbaar vir die hulp.

“Dit gaan hom baie help om meer onafhanklik te wees.”

Kenmare vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar en onderneem verskeie projekte om leerlinge oor die land heen met noodsaaklike hulpmiddels te help.

p

Jay Bee Farmer kyk toe hoe Helena Vermeulen (arbeidsterapeut) en Renier Jansen (tutor) hom touwys maak op die nuwe tablet.

You need to be Logged In to leave a comment.