Droom om te help ‘blom’ in Universitas

Gaste kon heerlik smul aan uitpak-kos, en wyne van die Deetlefs-wynlandgoed proe, op ’n aand aangebied deur The Queens Table ten bate van die Marigold-tuisversorgingsentrum en Food4Kids.


Gaste kon heerlik smul aan uitpak-kos, en wyne van die Deetlefs-wynlandgoed proe, op ’n aand aangebied deur The Queens Table ten bate van die Marigold-tuisversorgingsentrum en Food4Kids.

Die geselligheid is op Saterdag 14 Oktober by die hotelskool van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) aangebied.

Geld is ingesamel vir Food4Kids wat aan 250 leerlinge by vyf skole in die stad van ’n gekookte ete voorsien.

Callie Bam van Food4Kids, sê die projek word al die afgelope 12 jaar volgehou en word alles met borgskappe en skenkings gedoen.

Marigold, wat sr. Freda Garzouzie in 2018 in Langenhovenpark geopen het, is ’n droom van haar wat in die afgelope jaar bly groei het. Sy is dankbaar oor dié geselligheid wat aangebied is om Marigold Place geldelik te ondersteun.

Garzouzie wou met haar aftreegeld iets vir iemand doen. Haar plan was om ’n versorgingshuis te begin waar terminaal siek pasiënte, bejaardes, psigiatriese pasiënte en hawelose mense tydelik of permanent kon woon.

“Met my kop vol drome en my hart vol ongeloof, het ek die Vader gevra vir ’n teken of ek met dié plan moet voortgaan. Op pad werk toe het ek een oggend ’n verdwaalde marigold-blommetjie (stinkafrikaner) gesien en dit op ’n vensterbank in water gesit. Die volgende dag het ek nog so blommetjie op persies dieselfde plek gesien en dit gepluk en langs sy maatjie in die water gesit. Vir my was dit ’n teken. Ek het besluit om ’n perseel in Langenhovenpark te huur om die versorgingshuis te begin.”

Sy het Marigold Place geopen met vier pasiënte en vier versorgers wat alles moes doen.

“Ons het gespartel om bo te bly. Stelselmatig het die inwoners vermeerder na tien en later tot 13. ’n Ramp het getref toe ’n brand ons kantoor en al ons tuintoerusting vernietig het.”

Sy sê hulle het besluit om te verhuis en het met moeite die 13 pasiënte na ’n nuwe huis in Dan Pienaar getrek.

“Ons was so opgewonde oor die verandering en was vol planne oor die toekoms. Ongelukkig het die bure beswaar teen ons teenwoordigheid daar aangeteken en moes ons weer verhuis.”

Weer was dit vir haar ’n marigold wat tussen ’n hoop afval groei, wat haar moed gegee het. Hulle het ’n geskikte huis in Universitas gekry en op 28 Januarie vanjaar daarheen verhuis.

“In Februarie was die vraag na verblyf so groot, dat ons ’n tweede huis in die straat moes kry. In Julie vanjaar het ’n derde huis in dieselfde singel oopgegaan.”

Marigold het nou 29 inwoners wat verskillende vlakke van versorging benodig. Al het Garzouzie op ’n persoonlike vlak ’n baie slegte jaar gehad met haar eggenote wat oorlede is, is sy vol hoop vir die toekoms. Sy bly op die perseel en werk saam met ’n span versorgers en kantoorpersoneel om al die werk te doen. Sy sê daar is dikwels inwoners wat baie swaar kry en wat nie vir hul versorging hier kan betaal nie.

Met die hulp van sr. Yolandi van Deventer wat ook die wondsorgkliniek en versorging van buite-pasiënte bedryf, word almal by Marigold met liefde en omgee in ’n huislike en netjiese omgewing versorg. Inwoners deel hoogstens met een ander pasiënt ’n kamer, maar talle het hul eie kamers. Daar is ook gemeenskaplike sitkamers en kuierplekke in al drie huise.

“Met geloof in God en die teken van die marigold, het ons oorleef, en gaan ons van krag tot krag,” het Garzouzie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.