Met die welslae van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein se sportspanne die afgelope twee jaar, neem dié skool nou ’n verdere stap om sportontwikkeling daar ’n hupstoot te gee.
’n Splinternuwe sportakademie word nou op die skoolterrein ontwikkel met opknappings aan die netbalbane en die paviljoen.
Sedert die hervatting van skolesport in 2021, het Oranje se sportspanne verskeie hoogtepunte bereik.
Die skool se eerste tennis-, hokkie- en netbalspanne was in 2022 almal die beste in die land.
Daar is ook 19 leerlinge gekies om die land in nasionale spanne te verteenwoordig en ses leerlinge is as Suid-Afrikaanse kampioene in verskillende sportsoorte aangewys.
Kobus le Roux, voorsitter van Oranje se beheerliggaam, sê hulle is baie opgewonde oor dié sentrum. “Dit is die meesterplan van die vorige beheerliggaam onder leiding van Gustav Fichardt. Ons is opgewonde dat ons nou dié plan kan deurvoer.”
Hy sê hulle hoop die ontwikkelinge sal die meisies inspireer om nog beter te presteer.
“Ons samel nog geld in vir dié groot projek,” sê hy.
Die nuwe sentrum sal meer ruimte vir ’n gimnasium hê en sal ook ’n hoëprestasiesentrum en rehabilitasiegeriewe insluit. Verder sal daar in die sentrum ’n onthaalgedeelte, kombuis, snoepwinkel, sportkantoorruimte asook ’n balkon wees wat oor die nuwe hoofnetbalbaan en sintetiese hokkieveld uitkyk.
Die netbalbane gaan opgeknap word om aan internasionale standaarde te voldoen. Daar word ook nuwe kleedkamers vir die hokkie- tennis- en netbalspelers asook geriewe vir die skeidsregters gebou. Die paviljoen gaan met 200 bykomende sitplekke vergroot word.
Nog nuus by die skool is dat Corné Marais sedert die begin van die jaar as Oranje se nuwe sporthoof aangestel is.
“Een van my vernaamste take aanvanklik is om strukture in plek te stel, want daarmee skep jy sekuriteit en só kan jy die sport vorentoe vat,” sê Marais.
“Die doelwit is om ons prestasies te handhaaf en alle sportsoorte in die top 10 in Suid-Afrika te hou. Met deurlopende harde werk, gemotiveerde leerlinge en goeie afrigters kan dit bereik word.
“Verlede jaar was ’n bewys waartoe ons in staat is. Dit het baie selfvertroue geskep en die meisies gemotiveer om nog harder te werk, want hulle wil daardie trots behou. Daar is positiewe groei in swem en atletiek wat ons opgewonde maak en ek hoop dit sal met optimale geleenthede toeneem.”
Oranje se o.19A-netbalspan was verlede jaar met haar as afrigter die nasionale kampioen en haar o.14A’s van 2019 en o.17A’s van 2014 die naasbeste in Suid-Afrika. Tussen 2014 en 2020 was sy die spanbestuurder van die Vrystaat Crinums-netbalspan.