Klubatlete word genooi om aan die eerste Interklub-kampioenskap in Bloemfontein deel te neem.Foto: Unsplash


Die eerste 10 km-Interklub-kampioenskapbyeenkoms vind op 12 Augustus om 07:00 by die Tempe-sportstadion plaas.

Tertia de Bruin van die organiseringskomitee sê die droom het ongeveer ’n jaar gelede ontstaan toe wyle Leon Engelbrecht (stigter van The Running Edge Klub, asook CityRun) ’n behoefte raakgesien het om ’n wedloop te skep waar die verskillende hardloopklubs in die Vrystaat bymekaar kan kom om teen mekaar deel te neem. Op hierdie wyse wou hy kohesie tussen padwedloopatlete bevorder.

Die droom het vleuels gekry, toe FNB ingestem het om die kampioenskap saam met The Running Edge hardloopklub aan te bied.

Die 10 km-wedloop sal plaasvind in die Tempe-basis en al die senior hardloopklubs in die Vrystaat is uitgenooi.

“Die doel is om na afloop van die klubkampioenskappe die beste hardloopklub in die Vrystaat aan te wys,” sê De Bruin.

Die wenklub sal bepaal word op grond van deelname en prestasie van die klublede. Hierdie uitslag sal deur ’n geoktrooieerde rekenmeester bevestig word op die dag van die wedloop.

Die wenklub sal ’n wisseltrofee asook ’n gazebo met die klubnaam en “wenner 2023” daarop gedruk as prys ontvang.

Om die integriteit van die Interklub-kampioenskap te beskerm, geld daar streng reëls met inskrywings.

Alle atlete wat deelneem moet opbetaalde lede wees van ’n Vrystaatse hardloopklub. Atlete moet ook geaffilieer wees by Atletiek Vrystaat (AFS) en oor ’n 2023 Atletiek Suid-Afrika-registrasienommer beskik.

Atlete moet op die dag in hul klubklere deelneem en ’n Mobii-tydbandjie hê.

Inskrywingsgeld is R110 (wat ’n Mobii tydbandjie insluit) of R50 as die atleet reeds ’n Mobii-tydbandjie besit.

Aanlyn inskrywing kan op therunningedge.co.za gedoen word en sluit Maandag (07/08) om 23:00.

Inskrywing kan ook Maandag tussen 15:00-18:00 by die Tempe-sportstadion gedoen word.

Hierdie wedloop is deur Atletiek Vrystaat goedgekeur en sal jaarliks aangebied word om hardloop in die Vrystaat te bevorder.

Rig navrae aan Chenelle Roux by 082-888-6672 of Ronel Erasmus by 083-347-6325.

You need to be Logged In to leave a comment.