’n Leerling en oud-leerling van die Eunice High School is ingesluit in die Suid-Afrikaanse span wat Saterdag (03/12) na Spanje vertrek.
Taheera Augousti (gr. 11) en Kayla Swarts (wat verlede jaar in matriek was) gaan saam met die Suid-Afrikaanse hokkiespan deelneem aan die Internasionale Hokkiefederasie se Hokkie-nasiebeker wat van 10 tot 17 Desember in Valencia, Spanje, gaan speel.
Spanne wat teen mekaar gaan meeding is Suid-Afrika, Chili, Indië, Ierland, Italië, Japan, Korea en Japan.
Die twee is nou op ’n hokkiekamp voordat hulle die naweek vir die kampioenskap vertrek.
Die span se eerste wedstryd is op 11 Desember teen Japan. Op 12 Desember speel die span teen Chili en op 14 Desember teen Indië.
Taheera is ’n briljante speler wat ’n uitblinker was vir Eunice se eerste hokkiespan die afgelope jaar.
Sy is aangewys as die speler wat vroeër vanjaar die meeste doele vir die Suid-Afrikaanse skolespan teen Namibië aangeteken het.
Eunice is tweede op die Suid-Afrikaanse ranglys van top-skolespanne in hokkie Suid-Afrika, naas die Hoër Meisieskool Oranje.