BLOEMFONTEIN. ‘n Verdagte verskyn op Donderdag 4 September in die Botshabelo-landdroshof in verband met die transitorooftog wat Dinsdag op die N8 tussen Bloemfontein en Botshabelo plaasgevind het.
Dit kom nadat die Valke se eenheid vir die ondersoek van ernstige misdaad, misdaadintelligensie, die taktiesereaksiemag en sigbare polisiëring, asook die plofstofeenheid en die plaaslike misdaadrekordsentrum, saamgespan het om die verdagte Woensdag in hegtenis te neem.
Die transitovoertuig het Dinsdag op die N8 gereis toe ‘n groep gewapende mans dit aanval. Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag geld gevlug.
Later die dag het iemand op ‘n ongemerkte voertuig van die polisie geskiet, en daar word vermoed dit was die rowers wat op die polisie losgebrand het. Niemand is beseer nie.
Die multi-dissiplinêre span is onmiddellik saamgestel en het na die verdagtes begin soek.
Inligting wat ontvang is, het die wetstoepassers gelei na ‘n huis in Seksie H in Botshabelo, waar twee voertuie wat met dié op die misdaadtoneel ooreenstem, gevind is. Een van dié voertuie is in Mei in Bloemfontein gesteel.
‘n Huis is deursoek en die polisie het verskeie aanvalsgewere, ‘n pistool, ammunisie, klere en koëlbestande baadjies gekonfiskeer.
Een verdagte is in hegtenis geneem en die voertuig wat hy bestuur het, is gekonfiskeer.
Genl.Maj. Mokgadi Bokaba, die Vrystaatse hoof van die Valke, is geskok oor wat lyk soos ‘n herhaling van ‘n voorval vroeër die jaar.
“Belanghebbendes moet nou saamkom sodat ons planne kan maak om soortgelyke voorvalle in die toekoms te bekamp,” het Bokaba gesê.
Die ondersoek duur voort.




