Iemand het gesê: “Ons is geprogrammeer om bekommerd te wees, maar geskape om te glo.”

Ongelooflike wyse woorde.

Enigeen wat vir my sê dat hy oor niks bekommerd is nie, is óf ’n infame leuenaar óf hy leef in ’n fantasiewêreld. Oukei, bedaar! Dis slegs my mening.

Maar ek ken niemand in my werk-, kerk- of vriendekring wat nie deur die een of ander aaklige situasie in hul lewe worstel nie.

Dan praat ek nie van “die kat het jou laaste lê-hoender kom vang”-bekommernis nie. Dis meestal diep, seer dinge.

Gebroke verhoudings, verlies van ’n geliefde, ’n lewens­bedreigende siekte of probleme by die werk. Vul maar die beskrywing van jou eie pakkie besorgdheid hier in.

Sedert Maart 2020 werk ons groep vroue, wat vir ’n nasionale motormaatskappy salaris-administrasie doen, van die huis af. Dit het natuurlik sy voor- en nadele.

Toe ons onlangs vergader en bande optel, kry ek die geleentheid om ’n stukkie wysheid met hulle te deel.

Elkeen kry ’n helderkleurige bekommerniswurm. Iets tasbaars om ons daaraan te herinner dat ons nie slegs virtueel in mekaar se lewe is nie, maar steeds in lewende lywe funksioneer.

Die worry worm, soos dit in Engels lui, is ’n pikante klein gehekelde ruspe met ’n kaartjie wat verduidelik dat hy jou bekommernis-kameraad sal wees. Die idee is om die koddige skepseltjie nader te trek wanneer die lewe begin druk.

Ek deel met my kollega-susters dat: In stede van rondsit, tob en bekommer oor die probleme, is dit raadsaam om eerder te begin bid.

Wanneer ’n mens stip in die wurm se swart-en-wit plastiek-ogies staar, moet jy onthou om die kwellinge met ons hemelse Vader te bespreek.

Hy spesialiseer in die ontknoping van die ergste situasies. Hy kan en wil vernuwing, genesing en herstel bring met die spreek van ’n woord.

Die wolwurm dien as herinnering dat menslike bekommernis geen nut of waarde het nie.

In Spreuke 16:3 deel Salomo die volgende: Laat jou werk aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.

En wie ken nie reeds Filippense 4:6-7 nie? Wees oor niks besorg nie . . . En dan die belangrike deel: En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Hierdie verse bring kalmte in my vuisvoos gemoed.

Ons aardse bestaan programmeer ons om bekommerd te wees, om wakker te lê en om planne te beraam.

Jy word kleintyd geleer om die bul by die horings te pak en om nie op jou louere te sit en wag totdat ’n situasie homself uitpluis nie. Jy moet die ontwerper van jou eie toekoms wees.

Maar soos ’n mens ouer word, en jou planne misluk en jou moed opraak, besef jy daar is slegs een ware lewende Bekommernis-Kameraad. En wanneer jy glo en stil raak, sal Hy plan maak, ’n uitweg gee en jou siel rustig maak.

You need to be Logged In to leave a comment.