Naval Hill se geliefde kameelperd, Bulperd, is Sondag langs die draad in die Franklin-natuurreservaat in Bloemfontein dood.
Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin, sê sy sien al ’n ruk lank dat dié kameelperd kondisie verloor.
“Sondag het ek gehoor hy het ineengestort en het na die toneel op Naval Hill gegaan, waar personeel van die DBV en die departement van kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) reeds was.”
Sy sê Bulperd was 17 jaar oud en is op Naval Hill gebore.
“Dit is ’n goeie ouderdom vir ’n kameelperd. Ons is baie hartseer en het groot drome gehad dat hy sal help om die kameelperdgetalle op Naval Hill te vermeerder,” het sy vanoggend gesê.
Bulperd se ma, Masabatha, is in 2022 op Naval Hill dood nadat sy in ’n erosiesloot geval het en nie weer kon uitkom nie. Jong Paseka is Bulperd en Masebatha se kalfie.
Ná Masabatha se dood, het Vriende van Franklin in 2022 twee vroulike kameelperde op Naval Hill hervestig.
Die Rooipoort-natuurreservaat buite Kimberley het twee kameelperdkoeie aan die Vriende van Franklin en die Mangaung-metro geskenk wat op Amanzi gevestig is. Die Vriende van Franklin het self die geld ingesamel vir die vang, verskuiwing asook medisyne wat die diere nodig gehad het.
Twee vroulike diere is toe van die Weltevreden-natuurreservaat na Naval Hill verskuif waar die plantegroei baie dieselfde is en hulle makliker kon aanpas.
Grobbelaar sê hulle hoop steeds dat die bevolking van Naval Hill sal vergroot om die voortbestaan van kameelperde in dié unieke reservaat in die middel van die stad te verseker.