Dit vat ’n spesiale mens om ’n hart te hê om werklik om te gee vir kinders wat op straat leef.
Marita van Kraayenburg, programbestuurder van Kidz Care Trust, het op 27 November op dié organisasie se jaarvergadering haar dank betuig aan Rosa Nortjé, ’n afgetrede onderwyser van die Laer Meisieskool Oranje, wat sedert 2008 gehelp het om vir hierdie kinders kos te maak.
Nortjé se lang pad met straatkinders het een yskoue Vrydag in 2008 begin toe sy gebid het dat kerke hul deure oopmaak vir hawelose mense en kinders wat op straat leef.
Sy het egter geroepe gevoel om in te gryp en het ’n maatskaplike werker van Kidz Care Trust gekontak om te hoor waar sy kon help. In daardie stadium het die straatwerker Michael van Heerden twee keer ’n week kos uitgedeel en sokker gespeel naby AAA-slaghuis in Alexandralaan.
Nortjé het die hulp van haar kollegas ingeroep en ’n voedingprojek is by die skool begin. Leerlinge van Oranje het gehelp, en gou het die projek gegroei van ’n paar toebroodjies tot ’n voedingprojek groter as wat enigeen gedroom het.
Selfs nadat Nortjé afgetree het, is die projek voortgesit. Chrisné Ehlers by die skool het dit oorgeneem, en deesdae help die leerlinge by Oranje om twee keer ’n week voedsame kospakkies aan Kidz Care te skenk wat aan kinders wat op straat leef, gegee word.
“Ons is Rosa ewig dankbaar dat sy haar roeping gevolg het. Sy het tallose kinders se lewe aangeraak,” het Van Kraayenburg op die vergadering gesê.
Kidz Care se jaarlikste Kersfeesprojek is ook nou aan die gang.
Die publiek word genooi om ’n bydrae te lewer sodat Kidz Care kinders wat op straat leef en werk kan help.
’n Skenking van R300 kan vir een seun toiletware koop; R400 kan vir vakansie-uitstappies soos swem, fliek en museumbesoeke vir een seun betaal; R500 kan vir een seun ’n paar tekkies koop; en R700 kan vir een seun een stel klere koop. Rig navrae aan Van Kraayenburg by 082-775-2770.