Kranse word gelê by die grafte aan die voet van die Nasionale Vrouemonument

Lientjie Mentz

Die Kestell-gedenklesing is vanjaar ongeveer die 30ste keer by die Nasionale Vrouemonument aangebied.

Op die geleentheid Saterdag (26/02) het ds. Jan Lubbe ’n kort lesing vir verteenwoordigers van verskeie kultuurorganisasies aangebied oor die skrywes van ds. J.D. Kestell, wat aan die voet van die Vroue­monument begrawe is.

Ná die lesing het verskillende organisasies kranse gelê by die nis van Emily Hobhouse, asook by die grafte van pres. M.T. Steyn en sy vrou, Tibbie, genl. Christiaan de Wet en Kestell.

By die nis van Hobhouse het Lienca Fereira namens die Laer Meisieskool Oranje, asook Benita en Franco Jacobs namens die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging en die Van Riebeeck-volkspelelaer kranse gelê.

Karin Botha het namens Die Dameskring ’n gedig voorgelees.

Daarna het prof. Francis Petersen namens die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Marthinus Steyn (namens die Steyn-familie) kranse op Steyn se graf gelê.

Twee kinders van Ons Kinderhuis het kranse gelê by die graf van Tibbie Steyn en Cara Viljoen en Adri Smith namens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), en Mieke Louw en Katelyn Visser, namens die Hoër Meisieskool Oranje, het ook op dié graf kranse gelê.

By die graf van De Wet het Arnold Theron namens die Nasionale Vrouemonument­kommissie, Elane Bender namens die Vrystaatse Voortrekkers en Willie Engelbrecht namens die Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad kranse gelê.

Op die graf van Kestell het Louis Venter namens die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en ds. Kobus Botha namens die Vriende van die Oorlogsmuseum kranse gelê.

Vroeër die week, op Vrystaatdag, het Jan-Danie Malan van die FAK ’n Vrystaatvlag aan die voete van Steyn se standbeeld neergelê.

Die res van die week het die FAK die steentjies met die inligting oor konsentrasiekampsterftes langs die geplaveide aanloop van die Vrouemonument skoongemaak en geverf. “Die afhandeling van die werk is ’n voorreg,” het Malan ná die week se werk gesê.

Die afhandeling van die werk is ’n voorreg – Jan-Danie Malan

You need to be Logged In to leave a comment.