Die eertydse Afrikaanse digter Olga Kirch.Foto: Verskaf


’n Huldigingsgeleentheid vir een van die vroulike pioniers van die Afrikaanse digkuns, Olga Kirch, vind volgende week in Bloemfontein plaas.

Kirsch sou op 23 September vanjaar  ‘n 100 jaar oud geword het.

Om Kirsch se geboortedag te herdenk, bied die Klinkklaar Vokale en Instrumentale Ensemble op Dinsdag 22 Oktober ’n huldigingskonsert in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) aan waarin nuwe toonsettings van haar gedigte gehoor kan word.

In hierdie aanbieding word musiek-items vervleg met brokkies inligting oor Kirsch se lewe.

Sy het op twintigjarige ouderdom met Die soeklig (1944) gedebuteer en daarmee was sy, naas Elisabeth Eybers, in daardie jare slegs die tweede vroulike digter in Afrikaans.

In 1948 het Olga besluit om na die pasgestigte staat Israel te emigreer. In Israel het sy haar toekomstige eggenoot, die wiskundige Joseph Gillis, ontmoet. Hulle het twee dogters gehad, Michal en Ada. Michal, wat in 2013 oorlede is, was ‘n professor in maatskaplike en politieke studies aan die Southbank-universiteit in Londen.

Ada is ‘n professor by die Ruppin- Akademiese Sentrum in Israel en voorsitter van die departement gedragswetenskappe, terwyl sy privaat as ‘n kliniese sielkundige praktiseer.

Joanita Erasmus-Alt, wat die toonsettings vir die gedigte geskryf het, sê dit is ‘n besonderse eer dat prof. Ada Zohar hierdie huldigingsgeleentheid gaan bywoon en herinneringe van haar ma met die gehoor sal deel. Dit sal haar eerste besoek aan haar ma se geboorteland wees.

Die enigste lid van die Kirsch-familie wat nog in Suid-Afrika woon, Jeremy, sal ook by die geleentheid optree. Hy is die seun van Olga se oudste broer, Henry.

Kirsch het agt digbundels die lig laat gesien, sewe daarvan in Afrikaans en een in Engels. Sy het in die 1990’s ’n kwaadaardige breingewas ontwikkel en is op 5 Junie 1997 in die ouderdom van 72 jaar in Rehovot in Israel oorlede.

‘n  Deurlopende tema in Klinkklaar se huldigings-aanbieding is die sogenaamde “gespletenheid” in Kirsch se lewe: die deelword van ‘n  nuwe kultuur terwyl sy steeds die wortels van ’n ander land in haar gedra het. Ironies genoeg is haar skeppende vermoë juis daardeur bevestig. Hierdie “gespletenheid” vind ook uitdrukking in sommige van die toonsettings deurdat Joodse melodieë vervleg word met Suid-Afrikaanse volkswysies en nuutgekomponeerde musiek.

Klinkklaar bestaan uit 14 vroue wat hulle (deur hul sang) beywer vir die bevordering van Afrikaanse poësie. Aangesien die meeste van die groeplede ook musiekinstrumente bespeel, word alle instrumentale begeleidings deur die lede self gedoen.

Die huldigingsgeleentheid begin 18:00 en toegang is gratis.

You need to be Logged In to leave a comment.