Daar is die eerste maand van die nuwe jaar verby. Dit voel soos gister wat ons nog om die Kerstafel gesit het.
Van Kersfees gepraat. In die feestyd, met die baie genade-reën, staan my ou kar in die koelte van die groot wildeolien voor die huis.
Die kar is met kort verlof en rus soos sy eienaar so ’n bietjie ná 2021 se op en af.
Rondom Kersfees, toe ek weer aan die gang moet kom om my brood in die sweet van my aangesig te verdien, wil die kar om die dood nie aan die gang kom nie.
Met die draai van die sleutel is daar níks. Nie eens ’n tikgeluid nie.
Dit is seker maar die battery. Die seuns help om die kar aan die gang te stoot en daar gaan ek, batteryplek toe.
Met die toets van die battery lyk alles vir my oukei, met die toetser se naalde wat in die groen in spring. Die batterymanne sê anders.
Die ding is kapoet. Ek moet ’n nuwe een kry. So gesê, so gedaan.
Teen ’n stewige prys is die nuwe battery op sy plek. Die verligting oor inklim, aanskakel en ry, is egter van korte duur. Met die draai van die sleutel is daar níks.
Die batterymanne skud kop.
“Dan moet dit die starter wees.”
Die aansitter, dus, of knormoer, as jy wil. Oor die ou, “kapoet” battery en my geld in hul kasregister sprak hulle g’n sprook nie. Hulle help darem om die kar aan die brand te stoot.
Daar gaan ek, outo-elektrisiën toe.
Die outo-elektrisiën sê dit kan net die knormoer wees, maar dit is ’n slegte tyd van die jaar. Hy sal middel-Januarie, wanneer onderdele weer geredelik beskikbaar is, kan kyk en sê wat skort. Hy kan darem al sê die arbeid sal in die omgewing van R800 of ’n bietjie meer wees. Afhangende van wat skort, kan dit ’n paar honderd rand ekstra kos.
So staan die kar weer onder die boom.
Morsdood vir Januarie, totdat daar weer geld in die beursie is ná dié langste maand van die jaar.
Die Februarie-begroting maak ook nie regtig voorsiening vir ’n werkende knormoer teen R800 of so ’n bietjie meer – en dalk nog ’n paar honderd rand ekstra – nie. Wat gedoen moet word, moet egter gedoen word.
En toe red ’n kragonderbreking, van alle dinge, my.
Vrydagoggend toe die krag in die buurt uitskop, spring ek op die motorfiets om om die blok by die Centlec-manne te gaan uitvis hoe lank die onderbreking gaan duur.
Toe sien ek die bord voor ’n netjiese huis met ’n netjiese klein werkwinkel: “Hennie Mechanic”.
Hennie kan amper alles aan ’n kar regmaak. Hy doen dit al vir 50 jaar.
Vrydagmiddag neem hy die kar onder hande. ’n Uur of wat later bel hy. Ek kan die kar kom haal. Dit was die knormoer.
Die rekening is R360.
Hoe het Jan F.E. Cilliers gedig? “. . . ek hou van ’n man wat sy man kan staan . . .”
Ek hou ook van ’n man wat sy man kan staan.
Én ek hou van ’n man wat padlangs loop, wat eerlik en opreg handel, en nie daarop uit is om mense om elke draai te kroek nie.
Vir my en my kar sien Hennie Mechanic weer.