Pappie Mokoena, wat deur ’n tussentydse hofuitspraak van die Bloemfonteinse hooggeregshof in sy amp as uitvoerende burgemeester gestuit is. Foto: Lientjie Mentz


’n Waarnemende burgemeester en waarnemende hoofsweep vir die Mangaung-metro is Dinsdag (25/04) op ’n lang raadsvergadering verkies. Dit volg ná ’n hofuitspraak oor die wettigheid van Pappie Mokoena se verkiesing as die metro se uitvoerende burgemeester op ’n raadsvergadering van 14 April wat in die hof betwis word.

In ’n tussentydse uitspraak het die Bloemfonteinse hooggeregshof op 19 April beslis dat Mokoena onwettig verkies is en dat hy voorlopig in sy amp gestuit is.

Op ’n Dinsdag se vergadering is Gregory Nthatisi tot die waarnemende burgemeester verkies, terwyl die voormalige hoofsweep, Vumile Nikelo, onbestrede tot hoofsweep verkies is nadat sommige opposisiepartye die vergadering verlaat het en net een kandidaat se naam vir die tydelike pos voorgestel is.

Die waarnemende burgemeester en hoofsweep dien drie maande lank, of totdat die hof uitspraak lewer oor die geldigheid van Mokoena se verkiesing.

Dit kom nadat sewe geskorste ANC-raadslede die vergadering op 14 April bygewoon het. Drie nuwe proporsionele ANC-raadslede – Sibongile Tsoleli, Vusumzi Simon Soqaka en Manthuse Maria Letawana – is van 21 April af in drie van dié poste aangestel.

Die nasionale departement van koöperatiewe samewerking en tradisionele sake (Cogta) het Ngaka Dumalisile voorgestel as waarnemende stadsbestuurder.

Tydens die vergadering op 14 April is Mokoena van die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) as uitvoerende burgemeester verkies. David Masoeu van die DA is op dié vergadering as hoofsweep verkies. Albei is onbestrede verkies omdat die meerderheid ANC-raadslede nie die vergadering bygewoon het nie.

Die raad se begroting sal nou op ’n raadsvergadering Vrydag (28/04) ter tafel gelê word.

You need to be Logged In to leave a comment.