Die heel eerste Suid-Afrikaanse nasionale en provinsiale pickleball-kampioenskap word vanjaar aangebied, met die plaaslike toernooi wat op Saterdag 31 Mei en Sondag 1 Junie in Bloemfontein beslis word.
Die toernooi word deur Pickleball Suid-Afrika aangebied.
Spelers van oor Suid-Afrika heen word genooi om deel te neem.
Die eerste toernooi is op 17 en 18 Mei in onderskeidelik George in die Wes-Kaap en Durban in KwaZulu-Natal aangebied, met die volgende toernooi op 7 en 8 Junie in Pretoria.
Die wenners van die provinsiale toernooie ding van 20 tot 22 Junie in Gauteng teen mekaar in die nasionale toernooi mee. Die wenners in die enkelspel en dubbelspel vir mans en vroue in die ope afdeling sal kwalifiseer om deel te neem aan die Konfederasie van Afrika Pickleball Suidelike Afrika se toernooi vir ‘n moontlike plek in die Afrikabeker-toernooi.
Deelnemers kan hulle in ‘n ope afdeling inskryf, of vir deelname in ‘n ouderdomsgroep vir spelers 35 jaar en ouer. Dit geld die enkelspel, dubbelspel en gemengde dubbelspel.
Pickleball is ‘n opwindende sport vir toeskouers, en die publiek kan die wedstryde op Picklers Park in Groenvlei en by Ultimate Pickleball by die Fichardtpark-sportterrein ondersteun. Meer as 60 spelers gaan in verskeie afdelings teen mekaar meeding.
Rig navrae aan compete@pickleballsa.com.