Hulle het nooit gedink hulle sal in dieselfde gemeente werk nie.
Die predikantsegpaar di. Rikus en Thania Botha is op Sondag 6 Februarie as die nuwe leraars van die Universitas-geloofsentrum bevestig.
Nadat hulle drie jaar lank in verskillende gemeentes in Gqeberha (Port Elizabeth) gewerk het, is dié twee oud-Bloemfonteiners na die stad teruggeroep.
Albei was in Bloemfontein op skool – Rikus het aan die Hoërskool Jim Fouché gematrikuleer, en Thania aan die Hoërskool Fichardtpark. Daarna het albei teologie aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.
Dit is hier op die Kovsie-kampus waar hul pad saam begin het en hulle uiteindelik getroud is.
Ná hul studie is Thania beroep na die NG gemeente Hoogland in Gqeberha. Daarna het Rikus ’n pos by die NG gemeente Port Elizabeth-Noord gekry. Die afgelope jaar was Thania leraar aan die NG gemeente Somerstrand.
Toe ds. Zilke Mahbeer onlangs saam met haar man na Durban verhuis het, het ’n leemte by die geloofsentrum ontstaan.
Omdat dié gemeente sy bedieningsveld verder wou uitbrei, is daar besluit om twee leraars aan te stel. Die gemeente het hulle gekontak.
“Ons was gelukkig in Port Elizabeth,” sê Rikus.
“Ons het uit hierdie ervaring geleer dat die Here se tyd die regte tyd is.”
Hy het sy bedieningsjaar by die Geloofsentrum gedoen, en sê hy ken die gemeente en sy bediening.
Thania het haar jaar aan die NG gemeente Universitas-Wes gedoen.
“Ons het die afgelope drie jaar baie gegroei en die Here het ons gereed gemaak vir hierdie taak,” sê hulle.
Hoewel hulle albei by die gemeente werk, is Thania se fokus op die jeug en pastorale versorging. Sy het ook verlede jaar met haar meestersgraad in pastoraat aan die UV begin.
“Noudat ons in Bloemfontein is, gaan dit beslis makliker wees om met my studie voort te gaan,” sê sy.
Rikus is onder meer verantwoordelik is vir die Engelse bediening. Hy gaan ook binnekort by die bediening in Verkeerdevlei betrokke raak.
Saam met dr. André Oosthuizen gaan die leraars hande vat om die gemeente se visie van Koninkrykswerk uit te brei. Hieroor is dié egpaar baie opgewonde.
“Dit gaan vir ons lekker wees om hande te vat met ondernemings, skole en ander gemeentes om God se hande en voete in die gemeenskap te wees,” sê Thania.
Rikus sê ongeveer 90% van die gemeente is lidmate buite die tradisionele grense van die kerk.
“Dit is ’n gemeente wat almal verwelkom – daar is baie gesinne in die gemeente.”
Thania sê met hul bevestiging in die kerk het sy so oor die gemeente uitgekyk.
“Daar was soveel kindergesiggies. Om saam in dieselfde gemeente te werk is die kersie op die koek. Ons het nooit gedink dit sal gebeur nie.”
Die twee het mooi herinneringe aan hul studentedae.
“Nou gaan ons nuwe, mooi herinneringe hier in Bloemfontein maak,” sê Thania oor hul pad vorentoe.