’n Leerling aan die Eunice High School het na een van die agt topplekke in die ATKV se DigiToneel-kompetisie deurgedring.
Lucy Groenewald en Greta Maschke, albei van Eunice, het die top 16 gehaal, maar Greta gaan nou tydelik in Duitsland skool.
Die ATKV het pas aangekondig dat Lucy as een van die finaliste in die TV-reeks Gekies vir die kollig deurgedring het. Dit is die tweede keer dat dié reeks uitgesaai word.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder, sê die 16 semifinaliste het sedert die eerste ronde reeds baie gegroei.
Lucy het met haar werk Wakker worddeurgedring as een van die finaliste.
Deelnemers moes self ’n toneelstuk skryf en vir die kamera opvoer. Hulle het ook mentorsessies ontvang waarop mentors vir hulle terugvoering gegee het.
Gekies vir die kollig
word van 11 Oktober af op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Die ander finaliste is Carla Hugo van Centurion, Danelle Jacobs van Kakamas, Talia Roux van Somerset-Wes, Karli Marais van Krugersdorp, Lehan Kruger van Johannesburg, Lisa Kukard van Kaapstad en Rico Immelman van Krugersdorp.
Die top agt kry nou die geleentheid om tydens verfilming van die reeks tyd met die buitementor Solomon Cupido deur te bring. Hy is ’n kenner op die gebied van skryf, toneelspel, regie en rolprentvervaardiging.
Pietie Beyers is vanjaar die aanbieder van die reeks, en hy gaan self inklim om vir oulaas die finaliste saam met Solomon te help voorberei om die mentorbeoordelaars – Lea Vivier, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en Schoemé Grobler – met hul werk te beïndruk.