Soms wens ’n mens jy kan net wegkruip van al die uitdagings wat op ons as Suid-Afrikaners, en veral Bloemfonteiners, neerreën.
Soos ’n gebou of landskap wat in ’n miskombers toegevou word – om net vir ’n kort rukkie heeltemal afgesny te wees van die harde werklikheid van die lewe wat maar net nie beter raak nie, sodat jy ’n slag kan asemskep. Moed skep.
Dit is jou soms vir ’n kort rukkie beskore. As jy na ’n afgeleë plek reis waar daar geen of min selfoonopvangs is, is hierdie asemskep aan die begin van ’n nuwe jaar moontlik.
Vir ons groepie, meestal Bloemfonteiners, was dit soos nuut begin. Krag kry. Reg wees vir 2022.
Ons het die eerste week van Januarie ’n avontuurlike paar dae in die Oos-Kaap deurgebring. Meestal was die selfone iewers diep weggepak, of is dit net uitgehaal om mooi foto’s te neem.
Dit was veral op ’n tweedag-staproete in die Alexandria-duine dat die wêreld en al sy probleme ’n ruk lank verdwyn het.
Vir twee dae was ons grootste bekommernis waar ons ’n lekker sitplek kon kry om ’n versnapering te geniet, hoe om sand uit ons skoene te kry en hoe ver die stappershut met sy asemrowende uitsig nou éintlik is. Ook hoe om teen die steil duin wat op die eerste dag voor ons gelê het uit te klouter sonder om op een plek te staan en sand opskop.
Die Alexandria-duineveld is ’n unieke verskynsel aan die Suid-Afrikaanse kus – iets wat ’n mens die heel beste op dié staproete beleef.
Die duinelandskap dek volgens Sanparke ’n oppervlakte van 15 800 ha, wat oor 80 km langs die kuslyn strek, met dele waar dié duinelandskap sowat 5 km wyd is tot waar die kusbosse begin.
Dit is ’n aanskoulike gesig om tussen die duine te staan met sand wat jou behoorlik omring.
Die gevoel van verlatenheid en absolute stilte is salig.
Probleme en uitdagings is buite sig. Dit is net die pragtige lyne van die spierwit duine – en jy. Vlak voetspore in die harde sand.
Terug in Bloemfontein is die slaggate dieper, water in die suide ’n mite en openbare ruimtes ’n groen wildernis wat smeek om getem te word.
Gelukkig kan ’n mens soms in jou gedagtes na die vrede en stilte van ’n duineveld vlug en daar na sielerus en nuwe moed gaan soek.