Toe my dogter die suigstokkie in die pakkie tussen gekoerierde akademiese boeke vind, vonkel haar oë. ’n Heerlike verrassing.
Die onverwagse geskenkie neem my na die ontbytpap-pret van my kinderdae. In een pap se deksel was daar kaartjies met foto’s van diere of plante wat in ’n album versamel kon word. Skeurend, knippend en plakkend het ons die name van Suid-Afrika se fauna en flora leer ken.
Ander ontbytpappe het plastiek-speelgoed in gehad. Ek, my boeties en sussie het dikwels gestry oor wie dit gaan kry. Ma moes rekord hou van wie die vorige en wie die volgende speelding se eienaar was en sou word. Hierdie “gratis” bederfies (glo my, die koste was by die produkprys ingereken) was nie alleen ’n uitstekende bemarkingsinisiatief nie, maar ook ’n manier om iets ekstra te bied. In besigheidstaal word gepraat van toegevoegde waarde.
Daardie suigstokkie het my dogter laat aanvaar dat haar duur handboeke van goeie, omgee-mense kom. ’n Eenvoudige idee. ’n Rand of twee se belegging deur iemand wat boeke verkoop, het ’n student-kliënt van neutraal na lojaal omvorm.
In ’n bebeurtkragte, drukpotbesigheidsomgewing en polities verrottende land is ’n mens deesdae verbaas, verdwaas en verras as ’n basiese diens, soos vullisverwydering of die herstel van slaggate, uitgevoer word. Ons verwagtinge is laag. Toegevoegde waarde het in die vergetelheid verdwyn.
Of het dit?
Iewers verlede jaar staan ek en my vrou bedremmeld voor (nog) ’n dokter nadat my skoonma (nog) ’n keer in die hospitaal opgeneem is. Die dokter voor ons maak tyd in sy skedule. Hy ken ons van geen Adam nie, maar verduidelik dat die heeltydse sorg in die ouetehuis ons voorland is. Hy vra oor hoe ons die kostes sal dra. Bel dan rond om beskikbaarheid te bevestig. Hy sien ons verslaentheid. Toe ons loop, vra ek oor die bybetaling. Die ontvangsdame kyk na haar rekenaar. Die dokter by sy deur: “Moenie vir hulle ’n rekening uitmaak nie. Dis OK.”
Hy is ’n dokter. Menslik. ’n Uit-die-boks verrassing.
Dit gaan nie net oor geld en tyd nie. Ander dinge gebeur. ’n Bestuurder stop sy motor en help die oggendspitsverkeer oor ’n beurtkrag-verkeerslig. Iemand maak plek vir ’n skreeu-kleuter-mamma in ’n supermark-ry. ’n Onbekende man stop op ’n snikhete Bloemfontein-middag en deel koue botteltjies water uit aan werkers wat by ’n busstop wag. ’n Joernalis maak die behoeftes van ’n bedelaar op die sosiale media bekend. Mense reageer met oplossings: skoene en klere.
Daar is derduisende maniere om ’n onverwagse pasella met iemand te deel. ’n Glimlag. ’n Bemoedigende woord vir ’n kind. ’n Vriendelike groet in iemand se moedertaal.
Dalk kan ons almal in ons daaglikse wel en wee poog om die klein pasella in onsself te vind wat ons met ander kan deel, en op so ’n manier waarde, lig, en menslikheid aan ander se lewe toevoeg: Soet suigstokkies in die pakkie wat hul lewe elke dag uitdeel.