Ek dink deesdae dikwels terug aan my kinders se kleintydjare hier in Bloemfontein.
Dalk omdat ek ouer word, maar dis asof ek méér dikwels as gewoonlik die familieboks van die boonste rak in die motorhuis aftrek en my hand diep in die onthou-jy-nogs druk. Só beland ’n Valentynsdagkaartjie, gedateer 14 Februarie 1998, nou die dag in my hand.
Op dié kunswerk lag ’n vrolike wit hond, duidelike trekke van ons oorlede klein maltees, met ’n rooi hart in die bek, vir my. Die boodskap, kort en kragtig, nes my oudste al op sés jaar was: “Liewe Mamma, maak van elke dag ’n liefiedag.”
Ek het gelag toe ek dieper delf en ’n foto van my jongste, dramaprinses van ons familie, uit die hoop memorabilia trek. Soos ’n granaat staan sy daar, van kop tot tone in rooi getooi, van die hemp, die broek, tot by die plakkies aan haar voete, selfs die onderskrif in rooi – “Ons Speelgroepie” op Valentynsdag 1999.
Met respek gesê, ek is daarvan oortuig dat nie een van my kinders, óf hul kleuterskoolmaats, ooit bewus was van die bespiegelings rondom die oorsprong van Valentynsdag nie. Vir ’n vyfjarige is dit immers nie gewens nie, selfs wreed, om die genot van ’n vrolike dag, gevul met rooi harte, drukkies en omgee, in die skaduwee van ’n moontlike martelaarsoorsprong, soos wat beweer word, te moet beleef.
Vir ’n oomblik, boks op die skoot, sit ek agteroor en dink aan almal wat rooi harte agtergelaat het in my hart. Vir die res van die dae wat my nog beskore is, sal ek nooit die sagte kyk in Pa se oë vergeet wanneer Ma ’n vertrek binnegekom het nie. En Ma, al was sy soms hoe kwaai, ook met Pá, het ’n lagplooi in die hoek van elke oog gereserveer nét vir hom.
Vir ’n oomblik, boks op die skoot, sit ek agteroor en dink aan almal wat rooi harte agtergelaat het in my hart. Vir die res van die dae wat my nog beskore is, sal ek nooit die sagte kyk in Pa se oë vergeet wanneer Ma ’n vertrek binnegekom het nie. En Ma, al was sy soms hoe kwaai, ook met Pá, het ’n lagplooi in die hoek van elke oog gereserveer nét vir hom.
Ek loop vir ’n oomblik terug op ver paaie en vertoef onder elke sambreel waar my twee broers altyd gereed sou wees met raad en troos teen seer. Dikwels sou ons daarna, hand aan hand, lag-lag, saamstap tot by die volgende afpakplek.
Ek plaas die deksel van my onthouboks terug. Terug op my voete sien ek die duisende rooi harte raak in my Bloemfonteinhuis. Harte van vriende vol liefde, omgee, en lag, wat my ses jaar gelede terug verwelkom het in my dorp, hang ordeloos rond. Met elke inloer en kuierslag kry nóg een ’n hangplek in my huis.
Met die omdraaislag sien ek die opgeleefde Crocodile Dundee-hoed aan sy hak by die voordeur hang. Ek voel hoe ’n lagplooi soos Ma s’n by die hoek van my oog uitkruip toe ek dink aan die grys man wat netnou gaan instap by die deur ná ’n dag van werk. En ek lag toe ek vir my oudste daar ver ’n boodskap knik – Ma het onthou, my kind. Elke dag inderdáád ’n liefiedag!