Elkeen by dié skool belangrik

Hoërskool Hennenman is ’n plattelandse Afrikaansmediumskool in die hartjie van die Noord-Vrystaat. Elke leerder is by dié skool belangrik en daar word vir elkeen omgegee.


Hoërskool Hennenman is ’n plattelandse Afrikaansmediumskool in die hartjie van die Noord-Vrystaat. Elke leerder is by dié skool belangrik en daar word vir elkeen omgegee.

“Te midde van die Covid-19-pandemie het ons leerders steeds gehalte-onderrig ontvang en het personeel die ekstra myl gestap om ons leerders in staat te stel om hul skooljaar van 2021 suksesvol te voltooi,” sê Brenda Hoffman, skoolhoof.

Die klein klasgroepe waarborg persoonlike aandag en leerders word deur goed gekwalifiseerde personeel – wat spesialiste op hul vakgebied is – onderrig. Dít, tesame met toegewyde personeel wat niks ontsien om leerders ekstra hulp aan te bied nie, waarborg akademiese sukses. Die matriekuitslae en 100%-slaagsyfer van 2021 is bewys hiervan.

“Ons handhaaf ’n gesonde balans tussen akademie, sport en kultuur – hoewel ons akademie voorkeur geniet. Drie keusevakke per groep verseker dat leerders ná skool ’n wye verskeidenheid beroepe kan beoefen.”

By Hoërskool Hennenman word daar vir talle pret- en geesvang­aktiwiteite, soos die Valentynsbal, water­kaskenades, lentedans, boeresport, moddergat, gr. 8-pretdag, “40 days” en die matriek­afskeidgeselligheid, tyd ingeruim. Die tradisionele Henniedag is ook ’n hoogtepunt op die kalender.

Kampe en toere word onderneem, soos die JA-kamp, die matriekraad- en VRL-kamp, die gr. 9-buitelugskool en die toptien- akademiese toer, asook verskeie sporttoere.

Die kunskompetisie, dramagroep, ATKV-jeugfees en verskeidenheidskonsert gee leerders geleentheid om hulself op kulturele gebied te ontwikkel en uit te leef.

Die jeugaksie is die skool se geestelike platform wat van Christelike waardes getuig. Verskillende aktiwiteite dra daartoe by om leerlinge geestelik te voed.

Leerders kry ondersteuning op emosionele en geestelike vlak van die pastorale terapeut wat hulle met raad en daad bystaan.

Op sportgebied – rugby, krieket, hokkie, netbal, tennis en atletiek – is talle provinsiale verteenwoordigers al opgelewer.

Die Thepa Trading-netbaltoernooi, wat onder normale omstandighede jaarliks vir streekspanne aangebied word, is nog iets op die skool se kalender om na uit te sien.

“By Hoërskool Hennenman is waardes en norme deel van ons verwysingsraamwerk. Ons strewe na regverdigheid, betroubaarheid, verantwoordelikheid en lojaliteit, asook respek en omgee.

“Ons poog om dit deel van elke Hennie se lewensfilosofie te maak. Hoërskool Hennenman se leerders word só geslyp dat hulle maklik in die buitewêreld sal aanpas, want ons bearbei die algehele ontwikkeling van elke leerder.

“By Hennies wil ons graag God se wil na die beste van ons vermoë uitleef; daarom ons leuse vir 2022: ‘Godgedrewe uitnemendheid’.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.