The Street Store, wat op 28 Mei klere aan behoeftige mense op drie persele in Bloemfontein wil bied, is op soek na versamelpunte waarheen mense klere kan bring.
Marnélle Prinsloo, The Street Store se projek-koördineerder in Bloemfontein, sê sewe kerke in die stad werk saam om voor die winter behoeftige mense se nood te verlig.
“Die doel van The Street Store is om mense se waardigheid te herstel,” sê sy.
Die Afrikaanse Baptiste-kerk, die AGS kerk Jubilate, AGS Siloam, die NG kerk Pellissier, Joshua Generation, Doxa Deo Central en Doxa Deo Fichardtpark werk saam aan die projek. ’n Beroep word ook op alle vrywilligers gedoen wat ’n bydrae tot die projek wil lewer.
Dit sal vanjaar die sewende keer wees dat ’n geleentheid van The Street Store in Bloemfontein aangebied word.
Die drie afsetpunte hiervoor is die Tswellang- Spesiale Skool in Joe Slovo, Anchor of Hope in Hamilton en nog ’n perseel naby die middestad, wat later bekend gemaak sal word.
“The Street Store bied die geleentheid vir behoeftige mense om klere soos in ’n winkel uit te soek. Om die dag suksesvol aan te bied, is ons op soek na ondernemings en instellings wat klere vir die projek kan ontvang.
“Ons benodig ook mense wat ons kan help om materiaal te borg of wat die houers kan bou waarin in klere geplaas kan word.”
Die houer moet 1 m x 1 m groot wees. Die organiseerders kan help met die ontwerp daarvan sodat klere daarin geplaas kan word, maar nie maklik verwyder kan word nie behalwe, met ’n slot en sleutel.
Die publiek sal binnekort klere, veral wintersklere, vir die projek kan skenk. ’n Houer sal binnekort by Bloemnuus, wat saam met The Street Store werk om van die projek ’n groot sukses te maak, se kantoor geplaas word.
Prinsloo sê daar is veral ’n behoefte aan mansklere van kleiner groottes (28 tot 34).
“Ons benodig altyd baadjies en skoene, asook kinderklere. Ons is op soek na klere waarvoor jy lief is, maar wat jy nie meer wil dra nie.”
Ondernemings, skole, kerke en ander instansies in die stad wat ’n versamelpunt beskikbaar wil stel, kan Prinsloo voor 4 Februarie by 079-181-4567 kontak of ’n e-pos na streetstore.bfn@citychanger.org.com stuur.