‘Elkeen se lewe gevier’

Die eerste byeenkoms vir volwassenes met Downsindroom en hul gesinslede is onlangs in Bloemfontein aangebied.


Die groep wat die eerste byeenkoms vir volwassenes met Downsindroom of intellekteuele uitdagings bygewoon het, is van links, voor: Christiaan Cock en Ruben Erasmus; middel: Patrick McFarlane, Shéri Brynard, Rikus Strauss en Jannie Lubbe; agter Charles Barnardt en Lizanne Wright. Foto’s: Verskaf

Die eerste byeenkoms vir volwassenes met Downsindroom en hul gesinslede is onlangs in Bloemfontein aangebied.

As een van die ambassadeurs vir mense met Downsindroom oor die wêreld heen het Shéri Brynard tydens die inperking weens die Covid-19-pandemie gereeld met dié groep aanlyn vergaderings bygewoon.

Die groep ontmoet die afgelope twee jaar elke twee maande om gedagtes uit te ruil en oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe te leer soos deur Downsindroom Inter­nasionaal (Dsi) bepaal.

Shéri, in samewerking met die uitvoerende hoof van Downsindroom Suid-Afrika (DSSA) Ancella Rhamjas, het reeds vroeër ’n groep in Suid-Afrika gestig, maar tydens ’n simposium in Pretoria het Shéri besef dat sy dit steeds nader aan die huis wou bring.

Op 18 Junie is die eerste fisieke byeenkoms in Bloemfontein by die Koekela-huiskafee in Westdene aangebied, wat deur nege mense met Downsindroom of intellektuele gestremdheid, asook hul ouers en sibbe, bygewoon is.

Susette, Shéri se ma, sê sy en Shéri het die byeenkoms gereël, maar die groep gaan hul aktiwiteite in die toekoms self bepaal.

“Die dae dat mense skaam was vir ’n gestremde kind, is lank reeds verby,” sê Susette.

“Ons kom juis bymekaar om elkeen se lewe te vier. Elke ouer en gesinslid het getuig van die groei in hul lewe danksy die pad wat hulle saam met ’n kind, broer of suster moet stap wat ’n bietjie stadiger ontwikkel.”

Susette sê hulle wil graag meer volwassenes met intellektuele uitdagings en mense met Down­sindroom by die groep betrek.

Sy sê die groep is nou Afrikaans, en ’n bietjie Engels word gepraat, maar hulle wil graag groepe wat ander tale magtig is, betrek.

Downsindroom Vrystaat het die eerste geselligheid geborg.

Die volgende byeenkoms word beplan vir 10 September om 10:00, weer by Koekela.

Rig navrae aan Susette by 083-415-0459 of stuur ’n e-pos na brynard.s@gmail.com.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.