’n Nuwe era het aangebreek met die bekendstelling van Emoyamed Bloemfontein se nuwe bestuur en die nuwe hospitaalbestuurder.
’n Geselligheid is Maandag by die hospitaal op die Emoya-landgoed in Bloemfontein gehou.
Dr. Franco Erasmus is sedert 1 Februarie die nuwe hospitaalbestuurder van Emoyamed wat deur die bestuur van Bloemcare oorgeneem is.
“Ons is opgewonde om die gespesialiseerde mediese dienste wat die hospitaal bied, bekend te stel. Ons beoog om uitmuntende diens aan pasiënte in sentraal Suid-Afrika te lewer,” sê Erasmus.
Hy sê die personeel van Emoyamed gaan hulle daaraan toewy om aan die mediese behoeftes van die gemeenskap te voldoen en alles in hul vermoë doen om die veiligheid van hul pasiënte, personeel en dokters te verseker.
Die hospitaal, wat in 2022 in gebruik geneem is, beskik oor van die nuutste toerusting. Die hospitaal is gelisensieer en beskik oor drie moderne operasieteaters, 17 intensiewesorg-beddens, 55 beddens vir akute sorg, 19 beddens vir akute rehabilitasie en 25 beddens vir sub-akute pasiënte.
Die hospitaal se noodeenheid heropen ook binnekort.
Terwyl pasiënte in die hospitaal die nodige mediese behandeling ontvang, kan hul familie in die hotel op die landgoed bly asook geriewe soos die dag-spa wat tot hul beskikking is.
Spesialiteit mediese dienste wat in die hospitaal gebied word, sluit in interne geneeskunde, intensiewe sorg, rumatologie, neurologie, onkologie, algemene chirurgie, ortopediese chirurgie, neurochirurgie, ginekologie en plastiese chirurgie.
Die radiologie-afdeling beskik oor moderne beeldvorming deur twee MRI-skanderings en ’n CT-skandeerder. Die teaters beskik oor moderne toerusting met onder meer ’n neuronavigasiestelsel in die neuro-teater wat neurochirurge gebruik om gevorderde prosedures uit te voer.
Willem du Plessis, besturende direkteur, sê hy en die ander direkteure, Annabé le Roux en Elmien du Plessis, beskou dit as ’n reuse-voorreg en verantwoordelikheid om Emoyamed Bloemfontein funksioneel en effektief te bestuur. “Ons wil topgehalte diens aan die gemeenskap lewer,” sê Du Plessis.
Hy sê die direksie beskou dit as ’n uitdaging om die hospitaal van formaat weer effektief te bestuur.