Sowat 23 pasiënte is sedert Julie 2021 in Bloemfontein Hospice se versorgingseenheid by die Siesta-aftreeoord verpleeg.
Só sê Hanneke Lubbe ná ’n geselligheid wat Donderdag (17/03) as amptelike opening van die gerief aangebied is.
Die span van die kykNET-program Prontuit het Donderdag en Vrydag ’n opname van die hospies gemaak.
Volgens Lubbe bied die drie kamers ’n heenkome vir pasiënte waar hulle palliatiewe sorg ontvang en hul familie hulle kan besoek.
“Die kamers hier is net ’n klein deeltjie van die sorg wat Bloemfontein Hospice bied.
“Dit is egter ook ’n sigbare deel van die versorging. Die projek sou nie moontlik wees sonder die reuse-bydrae wat die gemeenskap gelewer het om die kamers en die sitkamer vir familielede in te rig nie.”
Sy sê ’n span vrywilligers onder die kundige oog van sr. Joan Marston versorg die pasiënte.
“Dié diens word deur die meeste siekefondse gedek, maar ons wys niemand weg nie. Familielede van pasiënte sonder ’n siekefonds word ook gehelp.”
Ds. Tlagu Molokoane, wat by die hospies betrokke is, sê die kamers by Siesta is ’n plek van vreugde en gerief.
“Ons help pasiënte en hul familie deur hierdie lewensveranderende gebeurtenis. Die span wat hier betrokke is, het ’n besonderse gawe vir empatie en omgee – en hulle hou vol met die goeie werk wat hulle verrig.”