Almal weet daar is nie ’n handleiding wat saam met ’n mens se kinders kom wanneer hulle gebore word nie.
Ja, daar is boeke en tydskrifte wat sê maak sus en so, moenie dit en dat doen nie.
Wenke en raad van familie en vriende is volop.
Geeneen van hierdie hulpmiddels is egter spesifiek op jou kind gerig nie. Elke kind is uniek.
Hierdie gedagtes het onlangs in my kop gedraai toe ons dogter, Megan, 21 jaar oud geword het.
Dit het my laat dink. Hoe weet ons as ouers of ons op die regte pad met ons kinders se opvoeding is?
’n Mens weet nie, maar toe ek al die verjaardagboodskappe van vriende en familie lees, besef ek mense ervaar haar in wese as ’n goeie mens.
My wens vir haar was nog altyd dat sy ’n goed aangepaste volwassene sal wees, wat met liefde, geloof en geluk die op en af van die lewe sal kan hanteer.
Sy kry dit reg.
Is dit omdat sy in ’n beskermde omgewing grootgeword het; familie en vriende het wat baie lief is vir haar en altyd daar is om te help; sy in ’n goeie skool was, wat gehelp het om haar menswees te vorm en ’n omgewing geskep het waarin sy geleer het wat die belangrike dinge in die lewe is?
Skielik dink ek aan al die kinders wat nie so bevoorreg is nie.
My gedagtes gaan na daardie kinders, wat nie soos Megan in ’n liefdevolle huis met Christelike waardes grootword nie.
Kinders wat nie elke dag genoeg kos het om te eet, of klere om aan te trek; wat nie skool toe kan gaan nie; wat mishandel word; wat, al is hul selfs nog jong kinders, hul jonger sussies en boeties moet grootmaak.
Elke keer wanneer ek hoor van kinders wat uit hul ouers se sorg verwyder is, om welke rede ook al, breek my hart.
Wat gaan van hierdie arme kinders word?
Gaan hy of sy eendag bo die slegte, wrede omstandighede kan uitstyg en ook ’n beter lewe hê, of gaan die bose kringloop maar net voortgaan.
Dan onthou ek van die engele wat by wonderlike organisasies soos Engo, Kindersorg, Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) en vele ander vir hierdie kinders ’n beter kans op lewe skep.
Daar is maatskaplike werkers wat geen steen onaangeraak los nie om seker te maak hierdie kinders kry die nodige hulp.
Ek en jy kan ook ’n verskil maak en dit is makliker as wat jy dink.
Ondersteun hierdie organisasies. Al is dit net deur iets te doen soos om klere van jou kinders wat nie meer pas nie te skenk.
Of, wees ’n pleegouer en gee jou liefde en tyd aan ’n kind wat dit broodnodig het.
Ek onthou Megan het van jongs af haar speelgoed en te klein klere by die kleuterskool by die VVA gaan afgee.
Só het sy ’n verskil in ’n ander kind se lewe gemaak, en vandag leef sy steeds met empatie teenoor haar medemens.
Leer ook jou kinders van jongs af dat nie almal so bevoorreg soos hulle is nie.
Dít is alles net genade.