Sy is ’n engel wat die Hemelse Vader vir hulle leen.
So sê Ilse Marais, kleinkind van tannie Coba Schabort wat Maandag 29 April haar 107de verjaardag gevier het.
Tannie Coba is trakteer met blomme en koek waar sy deesdae in die Groen Gang in Ons Tuiste in Westerbloem woon.
Sy was 90 jaar van haar lewe ’n lid van Die Voortrekkers en het in haar lang lewe sedert sy op 29 April 1917 gebore is, twee pandemies oorleef.
Eers die Groot Griep in 1918 toe sy een jaar oud was en toe die Covid-19-pandemie van 2020.
Sy was die enigste lid van die huisgesin wat die Spaanse Griep in 1918 gekry het.
Sy is in 1917 op die dorp Klipdam naby Barkley-Wes gebore.
Die dorpie Reivilo is na haar pa, Ds. A.J. Olivier, vernoem. Dit is sy van wat net agterstevoor geskryf word.
Sy was die tweede van vyf sussies en is die enigste van die vyf wat nog lewe.
Die ander sussies het almal hoë ouderdomme bereik.
Die kleinsus Tinka Botha is op die ouderdom van 83 in ’n motorongeluk oorlede. Ousus Johanna Potgieter het 100 jaar oud geword, Paula Coetzer is op 95 oorlede en Marie Joubert is op 97 oorlede. Vier van die sussies is destyds met predikante getroud en een met ’n dokter.
Tannie Coba is in haar jong dae met ds. Louis Lehmkuhl getroud.
’n Hele paar jaar ná sy dood, is sy met oom Bos Schabort van Frankfort getroud.
Sy het drie kinders gehad Nico Lehmkul en Heléne Wilke (née Lehmkuhl) wat albei oorlede is, en Annalet Nel (née Lehmkuhl) wat nou 82 is.
Marais sê haar ouma Coba is ’n sagte mens met die grootste hart.
“Sy sal nooit iets leliks van ander sê nie. Sy is ’n groot Christen en leef na aan die Here. Sy is ’n voorbeeld vir baie en probeer altyd die positiewe raaksien.”
Sy sê haar ouma is iemand waarna die hele familie opkyk.
Tannie Coba het nege kleinkinders, 15 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind.