Hy het hierdie gevoel gehad en dit het waar geword.
So vertel oom Izak Gelderblom (81) wat Vrydag 31 Oktober ‘n splinternuwe Renault Kwid Climber ter waarde van R222 000 gewen het.
Die motor wat op die spel in Engo se Projek van Hoop wat ‘n vreugdevolle hoogtepunt bereik het op ‘n geselligheid by Renault in Bloemfontein. Vyf finaliste is aangewys en hulle en hul metgeselle, borge Renault Bloemfontein, Novus Media en Evolve Audit and Advisory en Engo se personeel het ‘n oggend vol opwinding bygewoon.

Die ander finaliste wat aan die finale trekking deelgeneem het, is:
- Braam Minnaar van Wesselsbron;
- Gideon Mostert van Bloemfontein;
- Ntabeleng Tsimile van Senekal; en
- Bianca Strauss van Vanderkloof.
Oom Izak, wat op sy eie in ‘n meenthuis in Raymond Mhlabastraat woon, sê hy is so opgwonde oor dié groot geskenk. “Ek kan net sê dankie. Vir die Vader sê: dankie.”
Hy het net ‘n ou motor en dit is die eerste keer dat hy ‘n motor sal besit wat kragstuur het.
Sy dogter, Ansie, wat die oggend saam met hom bygewoon het, sê haar pa sal eers weer moet oefen om te bestuur. “Hy ry net Sondae kerk toe en dan na my toe. Verder ry ons hom rond as hy iets nodig het.”

Oom Izak het sy wenkaartjie by ds. Jannie Smith van die NG kerk De Bloem gekoop. Smith is ook die voorsitter van Engo se beheerraad.
Oom Izak het twee kaartjies gekoop. Hy sê hy gaan volgende jaar weer kaartjies koop.

Die publiek is vanjaar weer genooi om ‘n skenking van R50 te doen en in die trekking te wees vir die kans om die Renault Kwid Climber te wen.
Altesaam 6 719 kaartjies is in vanjaar se Projek van Hoop verkoop.
De Wet Claassens, uitvoerende direkteur van Engo, sê elkeen wat aan die projek deelgeneem het en ‘n kaartjie gekoop het, is ‘n wenner. Die fondse wat uit die Projek van Hoop ingesamel word gaan vir Engo se Kinder- en Jeugsorgsentrums, gestremdesorg, bejaardesorg en gesinsorg-programme.
“By Engo glo ons dat Ewige Hoop nie net in groot dade lê nie, maar in elke gebaar van gee. Die Projek van Hoop is ’n bewys daarvan – ’n herinnering dat wanneer ons saamstaan, ons werklik die wêreld om ons kan kleur met hoop,” sê Claassens.
Engo, ‘n nie-winsgewende organisasie gegrond op Christelike waardes van moed, uitnemendheid, eerlikheid, integriteit, sorg en empatie, en skep reeds vir meer as ‘n eeu Ewige Hoop (Tshepo Esafeleng) in die Vrystaat.

Dit is vanjaar die 12de keer dat die Projek van Hoop aangebied word. Dit is ‘n projek waarby Novus Media Gemeenskapsnuus en sy Vrystaatse koerante, BloemNuus, BloemExpress, Vista en VrystaatKroon, van die begin af betrokke is.

Vir meer besonderhede of om betrokke te raak, stuur ‘n e-pos na info@engo.co.za of skakel 060 548 5543. Besoek ook die webblad by www.engo.co.za



You must be logged in to post a comment.