’n Jarelange droom om ’n blyplek te bied vir sorgverlaters van Ons Kinderhuis in Bloemfontein, word vandeesmaand waar.
Vier jong vroue neem Donderdag (01/12) hul intrek by een van die woonstelle langs die terrein van Ons Kinderhuis, wat vir ’n inkomste aan privaatmense uitverhuur word.
Frikkie van Dyk, hoof van Ons Kinderhuis, sê dit spruit uit Engo se sorgverlatersprogram wat in 2015 begin is om kinders wat matriek voltooi en ander wat die jeugsorgsentrum verlaat omdat hulle 18 jaar oud word, voor te berei vir die volwasse lewe.
“Ons wou vir van hierdie jongmense ’n veilige blyplek teen ’n billike tarief bied.
“Daarmee wil ons hulle help om as onafhanklike mense die volwasse lewe te betree,” het Van Dyk oor dié nuwe projek gesê.
Hy verduidelik dat sorgverlaters aansoek kan doen vir hierdie verblyf en dit dan aan ’n keuringsproses onderwerp word. Die vroue is dan self verantwoordelik vir die betaal van die huur.
“Waar nodig sal ons hulle ook help om byvoorbeeld vakansiewerk te kry om hul inkomste aan te vul om lewenskostes te dek.”
Twee sussies Mariana (19) en Marinda Venter (18) wat nou matriek aan die Hoërskool Sand du Plessis skryf, is twee van die vier vroue wat die eerste keer die volwasse wêreld betree met hul intrek by die woonstel.
Mariana gaan volgende jaar onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer en het reeds gehoor dat sy ’n beurs ontvang het om haar studies te help betaal. Sy was vanjaar Ons Kindershuis se toppresteerder.
Marinda, wat vandeesweek na Malawi vertrek om aan die Junior Judo-kampioenskap deel te neem, begin op 15 Desember by ’n haar- en skoonheidsalon werk.
Die twee sussies woon die afgelope 10 jaar in Ons Kinderhuis en is opgewonde oor die nuwighede wat nou op hulle wag.
“Om te weet ons het ’n blyplek noudat ons die jeugsorgsentrum verlaat, verlig baie van ons stres,” het Marinda gesê.
Die woonstel is reeds ingerig met ’n sitkamerstel, maar Frikkie sê daar kort beddens en matrasse.
Die kombuis moet ook nog ten volle toegerus word.
Daar is plek vir ses vroue in die woonstel.