Bloemfonteiners wat meer wil leer hoe om voor mense te praat, kan hulle aansluit by Bloemfontein Toastmasters.
Die groep leer lede om met gemak voor ’n gehoor te praat, in ’n omgewing waar hulle mekaar ondersteun.
Hannatjie Penning, die vise-president van Toastmasters gemoeid met lidmaatskap, verduidelik lede sluit nie by Toastmasters aan omdat hulle goed kan praat nie, maar juis sodat hulle kan leer om beter en met gemak te praat
“Wanneer jy aansluit, kry jy leiding om jou toesprake voor te berei en aan te bied.
“Lede evalueer mekaar se toesprake.
“Dit is opbouende kommentaar wat jou wys op jou sterkpunte en waarop jy kan verbeter.
“Daar is ook ’n afdeling waar lede onvoorbereide toesprake doen, wat lede leer om op hul voete te dink. Daar is ook ’n leierskapsafdeling,” verduidelik Penning verder.
“Lede wat al die projekte suksesvol afhandel, kry ’n sertifikaat by Toastmasters Internasionaal.
“Hierdie sertifikate kan vir jou baie beteken vir jou CV, want dit word baie hoog aangeskryf in die sakewêreld.”
Vergaderings vind elke tweede en vierde Woensdag van die maand om 17:15 by die Oud-studenteklub in Brandwag plaas.
Rig navrae oor lidmaatskap by Penning deur haar by 083-805-1342 te bel.