Die sesde Avbob-poësiekompetisie open op 1 Augustus vir inskrywings in al 11 amptelike tale. Weer wag daar ruim kontantpryse op die wenners.
Suid-Afrikaners op alle vlakke van die samelewing word aangemoedig om hul keurigste woorde van liefde en hoop, moed en troos in te span.
Die beste inskrywings in elke taalafdeling sal in die Avbob-poësiebiblioteek gepubliseer word en die skrywer R300 in die sak bring.
Die eerstepryswenner in elke taalafdeling sal ’n groot prys van R12 500 ontvang. Dit sluit in R10 000, ’n boekbewys van R2 500 en die gesogte Avbob-poësietrofee.
Volgens Carl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, is dit ’n riem onder die hart om te weet dat almal in oomblikke van hartseer of vreugde dieselfde emosies as ons voorouers ervaar.
“Dis in sulke tye, wanneer dit voel of ons nie meer woorde het nie, dat ander se woorde ons troos of steun kan bied,” meen hy.
“Die doel van die Avbob-poësiekompetisie is om ’n gesamentlike ruimte te skep waar alle Suid-Afrikaners hul diepste emosies met mekaar kan deel.”
Digters kan tot tien gedigte via die webtuiste indien. Die top drie in elke taalafdeling sal in die jaarlikse gedrukte bloemlesing ingesluit word. Alle gedigte op die kortlys sal in Engels vertaal word om ’n gees van begrip en samesyn onder Suid-Afrikaners aan te wakker.
Avbob Poësie se sosialemediaplatforms is vol wenke oor hoe om aan die gang te kom, sowel as aanwysings deur die beoordelaars. Drie verskillende bronne is op die Avbob-poësiewebtuiste beskikbaar om aspirantdigters te ondersteun en aan te moedig. ’n Toevoeging vanjaar is ’n reeks gratis aanlyn werksessies, voor en tydens die kompetisie, deur ervare digters en uitgewers.
Digters wat hul werk wil inskryf, kan hulle by avbobpoetry.co.za registreer en tot 30 November tien gedigte in hul moedertaal indien.