Doerietyd, ’n nuwe museum waarin enjins van ouds uitgestal word, kon Saterdag (12/03) met ’n behoorlike daknatmaak spog.
Trekker- en enjin-geesdriftiges het saamgetrek op ’n hoewe in Bainsvlei waar Hannes de Wet en sy pa, Willie, se versameling enjins nou in ’n splinternuwe stoorkamer pronk.
Hannes sê hy het besluit dat dit nou hoog tyd is dat die enjins – wat hulle sedert 1987 versamel en opbou – op een, veilige plek bewaar word.
“Ek het die afgelope twee jaar daaraan gewerk om dié stoor te bou sodat ons versameling teen die elemente beskerm kan word. Dit skep ook ’n gerieflike werkplek vir ons.”
Hannes sê 30 enjins – wat in ’n werkende toestand is – is deel van dié versameling.
“Om die enjins reg te maak is vir my ’n lekker speletjie,” vertel dié Bloemfonteinse tegnikus.
Hoewel die Doerietyd-museum nie vir lede van die publiek oop is nie, beplan hulle om elke jaar ’n ope dag te hou waarop belangstellendes na die enjins kan kom kyk.
Dit bied ook ’n nuwe plek waar lede van die Sentraal-Vrystaat-veteraneklub byeen kan kom om stories oor hul nuutste projekte uit te ruil.
Volgens Eric Mouton, nuwe voorsitter van die klub, het klublede immers wonderlike stories van enjins wat hulle op die een of ander interessante plek gekry en opgebou het.
Willie de Wet en Doppies van Eeden was in 1997 twee van dié klub se stigterslede nadat hulle van die Noord-Vrystaat-klub afgestig het.
Vir die opening is van die lede se enjins ook uitgestal.
Soos dié van Cronjé Dietrichsen van Clocolan. Wanneer sy McCormick-enjin uit die 1920’s aan die gang getrek word, staan die rook sommer so.
Een van oom Willie se enjins wat ook uitgestal is, ’n Deutz-12-silinder-kragopwekker, is destyds gebruik toe die Katsedam in Lesotho gebou is.
Elmar du Plessis, nog ’n klublid, sê die weer het saamgespeel om Doerietyd met ’n behoorlike “daknatmaak” te open.
“Dit het vroegmiddag gestortreën en ons moes klou dat die tente en gazebo’s nie wegwaai nie. Tog het die dag heerlik uitgedraai, en kon almal lekker saamkuier en aan die afval-potjiekos smul.”