Entrepreneur dra ál meer talentvolle hoede

Die Fiësta-benoeming wat Xander Steyn einde verlede jaar vir sy kinderteaterstuk Hans Haas sê hallo! ontvang het, was net weer vir hom ’n bevestiging dat hy doen wat hy moet doen.


Xander Steyn, talentvolle regisseur, choreograaf, sanger, danser en akteur van Bloemfontein.Foto: Verskaf

Die Fiësta-benoeming wat Xander Steyn einde verlede jaar vir sy kinderteaterstuk Hans Haas sê hallo! ontvang het, was net weer vir hom ’n bevestiging dat hy doen wat hy moet doen.

So sê dié akteur, regisseur, danser, skilder en alom-begaafde kunstenaar tien jaar nadat hy sy produksie-onderneming Xander Art Productions in 2014 in ’n motorhuis in Bloemfontein begin het.

“Mense het destyds glad nie begryp wat ek wil doen nie. Met die hulp van Jana du Plessis en die ondersteuning van my ma, het ek skole besoek om kinders te oortuig om deel van hierdie opwindende idee te word. Ons het met 11 laerskoolstudente begin.”

Vandag het Xander 125 studente van alle ouderdomme en bied tweemaal ’n jaar ’n musiekteater-vertoning aan wat klokslag tonekrul-lekker is met kostuums en kreatiewe dekor wat verstom.

Hoewel Xander van sy skooldae eers in Hentie Cilliers en later aan die Hoërskool Sentraal gewys het dat hy baie talentvol is en saam met sy susters Christine en Ansua in die Bloemfonteinse Kinderkoor gesing het, het hy uiteindelik argitektuur studeer.

Gedurende sy nagraadse studies by die Wits-universiteit in Johannesburg, het die teatergogga hom behoorlik gebyt. Hy was in talle produksies as danser, akteur, sanger en choreograaf.

Sy eerste smaak van ware musiekproduksie of pantomime, was in Janice Honeyman se gewilde jaarlikse patomimes.

Die drie Steyn-kinders in 1993 toe hulle deel was van die Bloemfonteinse Kinderkoor. Van links is Xander se susters Dr. Christine Steyn-Stevens en Dr. Ansua Steyn-Alsröm toe hulle in die Hoërskool Hentie Cillier was. Xander Steyn (regs) was later jare in gr. 11 en 12 in die Hoërskool Sentraal. Foto: Verskaf

Hy was in 2006 in Aladdin, 2007 inFiddler on the Roofen Peter Pan, in 2008 in Snow White. Hy was ook in talle ander produksies soos The Rocky Horror Show waarin hy Rocky gespeel het in die Barnyard-teater in 2012 en as hoofsanger en danser in What a Feeling in 2011.

Dit was egter as onderwyser in Seoel in Suid-Korea in 2012 en 2013 wat hy die kinders gelei het in wonderlike musiekteaterstukke waarop sy liefde vir die genre vir hom nuwe deure oopgemaak het.

Terug in Suid-Afrika in Bloemfontein het hy Xander Art Productions begin en gou die wenresep vir dié gereelde teaterstukke gevind.

Tussendeur talle werk saam met skole en vir produksies in die Vrystaat, het Xander Art Productions bly groei.

Tydens Covid-19 het hy The Rabbit House as gastehuis en ateljee ingerig waar kleedrepetisies kan plaasvind, maar in dié tyd het hy ook begin om sy vertonings vanaf die Sand du Plessis-teater na die Rabbit-studio te skuif.

Mettertyd het die paviljoen, klank en beligting bygekom en vandag is dit ’n klein teater in eie reg.

Xander Steyn as BEE in Red Riding Hood in 2022.Foto: Lientjie Mentz

Op dié manier het hy vir homself baie geleenthede geskep en het hy die bevrediging om kinders te sien groei en hulle selfvertroue te ontwikkel.

“Met teater het ek die geleentheid om mense se lewe aan te raak. Dit is wonderlik om te sien hoe kinders ’n passie uitleef. Dit is nog meer spesiaal om te sien hoe ’n skaam kind uit sy of haar dop kruip en ontpop.”

Xander se produksies skep nie net ’n verhoog vir skoliere nie, maar bied ’n raar geleentheid vir volwassenes om ’n rukkie van hul besige skedules weg te glip en deel van ’n semi-professionele toneelstuk te word.

Die volgende toneelstuk waaraan die studente nou werk, is Aladdinwat van 6 tot 8 Julie te sien sal wees.

p

Xander Steyn in The Amazing Technicolor Dreamcoat.
p

Xander Steyn as Hans Haas.
f

Xander Steyn in Bliss, ‘n dans-vertoning in die André Huguenet-teater
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.