Entrepreneur spog met leerprodukte by Franse Mark

’n Droom om ’n entrepreneur te word het vir Ané Strauss waar geword danksy haar eerste uitstalling by die Franse Mark op Villa Avianto byna twee jaar gelede.


Franse Mark

Ané Strauss by haar stalletjie Roekelooslief sal weer by die Franse Mark op 4 Maart.

’n Droom om ’n entrepreneur te word het vir Ané Strauss waar geword danksy haar eerste uitstalling by die Franse Mark op Villa Avianto byna twee jaar gelede.

Ané vertel sy was nog altyd mal oor egte leer en die reuk van leerprodukte – die gevoel van leer en die gebruike daarvan. “Ek wou graag iets uit leer skep.”

Sy het begin om leerhandsakke en sakke van leer te laat maak onder die handelsnaam Roekelooslief.

“Entrepeneurskap is uitdagend, ja, maar ek beskou die rede vir uitdagings as deel van jou gereedskap wat jy moet gebruik om jou te motiveer.”

Sy sê nie almal se suksesverhale kan dieselfde wees nie. “Solank jy net kan terugkyk en weet hierdie is jou eie verhaal. Daarom is dit nodig om in jouself te glo.”

Sy sê ’n algemene vraag wat mense aan haar vra, is of sy self die produkte maak. “Nee, ek doen nie, dis onmoontlik vir my om alles self te maak. Daarom is daar engele op aarde wat my hande omhoog hou om Roekelooslief se skeppings te vorm.

“Die belangrikste is dat jy, die entrepreneur, die eerste stap moet neem en bepaal wat jy gaan benodig om een produk te skep. Jouself die vraag afvra of jy dit self kan skep en indien nie, uit te reik na diegene wat jou kan help om van jou produk ’n sukses te maak.

“Jou denkwyse oor jou produk, jou mark, wat jy daaruit en daardeur wil bereik is belangrik. Nie alles werk altyd uit soos jy gedink het dit gaan nie. Al hoe jy gaan weet of dit werk of nie, is deur dit te beproef. Nie net een keer nie, ’n paar probeerslae sal jou leer wat werk en wat nie. Dit verg selfdissipline en harde werk.”

Wanneer jy tevrede is met jou produk, is goeie blootstelling belangrik, meen Ané.

PPP

Een van die sakke van Roekelooslief.

“Ek sou beslis nie vandag se groei in my onderneming sonder die blootstelling van Roekelooslief se produkte by die Franse Mark kon bereik nie.

“By Villa Avianto voel ons soos ’n groot familie, ’n klein gemeenskap wat mekaar ondersteun, bystaan en motiveer. Ons lag saam, geniet mekaar en die geselligheid om jou word waarlik deel van jou. Ons beskou mekaar nie as mededingers nie, maar as vriende wat mekaar bemark en dit is deel vir die sukses van dié eksklusiewe mark.”

Die Franse Mark word Saterdag 4 Maart van 07:00 tot 15:00 by Villa Avianto in Kwaggafontein aangebied. Toegang kos R30, en R10 vir laerskoolleerlinge. Kinders onder ses jaar kry gratis toegang.

Kontak Villa Avianto by 083-329-4872 vir meer inligting.

Bloemnuus is die gedruktemediaborg van die Franse Mark.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.