Die kurator van Naln by ’n gips-afbeelding van die standbeeld van genl. J.B.M Hertzog wat voor dié museum gesteel is.Foto’s: Lientjie Mentz

Vandale saai amok en verwoes en steel geskiedkundige beelde en versierings oral in Bloemfontein.

Die waardevolle bronsbeeld van genl. J.B.M. Hertzog is die naweek voor die ingang van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) gesteel.

Wyno Simes, kurator van Naln, sê die standbeeld wat in ’n nissie regs van die hoofingang was, is gedurende die naweek gesteel.

“Ons het nou ook die beeld van C.J. Langenhoven wat aan die linkerkant van die voordeur was, verwyder om dit te bewaar.”

Hy sê al die borsbeelde van skrywers wat oral op die terrein van Naln was, is lank reeds deur die museum verwyder en word veilig bewaar.

Kort ná die diefstal van Hertzog se standbeeld, het vandale probeer om die versierings aan die marmervoetstuk van pres. Jan Brand se standbeeld voor die museum te verwyder.

“Hulle het Maandagaand probeer om die lourierkranse te verwyder, maar toe hulle besef dit is van staal gemaak en nie veel werd nie, het hulle dit gelos. Hulle het teruggekom en die versierings onder die marmervoetstuk verwyder.”

Die polisie het dié versierings by ’n skrootwerf gekry en die museum in kennis gestel.

“Ons kan dit nie weer by die beeld aanbring nie, want dit gaan net weer gesteel word,” sê Simes.

Lambertus van Rensburg, voorsitter van die Vriende van die Ou Presidensie- Historiese Vereniging, sê hulle betreur die vandalisme van geskiedkundige geboue en strukture die afgelope twee weke.

Die nissie regs van Naln se voordeur waar die beeld gesteel is.

Van Rensburg sê ses van die agttien plakette by die senotaaf van die Eerste- en Tweede Wêreldoorlog op Hoffmanplein, is ook verwyder.

Hy sê ook die kettings aan die sykant van die Hooggeregshof in Selbournelaan het “van eienaar verwissel”.

“Die Bewaringswet 25 van 1999 beveel die publiek en bewaringsinstansies om enige struktuur van geskiedkundige waarde wat ouer as sestig jaar is, of standbeelde, monumente en geskiedkundige strukture te bewaar. Dit mag nie sonder toestemming verander of vernietig word nie,” sê Van Rensburg.

“Waardevolle artefakte is tydens verskillend inbrake by die Militêre Museum in Oliver Tambostraat gesteel en talle uitstallings is weens dié vandalisme nie vir die publiek beskikbaar nie.”

Hierdie vlaag plunderings en diefstal volg op die verwydering van die borsbeeld van Sand du Plessis uit die tuin van die Sand du Plessis-teater.

Bloemnuus het verlede week berig twee mans het in verband met die diefstal in die landdroshof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat hangende verdere ondersoek.

Die standbeeld van Jan Brand voor Naln wat oor Charlotte Maxetestraat uitkyk. Rowers het eers probeer om die kranse te steel, maar besef dat dit nie veel werd is nie. Hulle het daarna is versierings aan die voetstuk van die monument verwyder en gesteel.

You need to be Logged In to leave a comment.