Die bronsletters wat van die voetstuk van die standbeeld van Christiaan de Wet op sy perd, Fleur, voor die Vierde Raadsaal gesteel is, se vervangingswaarde is na raming R100 000.
Dit is wat ’n beeldhouer die Nasionale Vrouemonumentkommissie, waaronder dié beeld val, sou vra indien die bronsletters wat onlangs afgesteel is, vervang moes word.
Prof. Andries Raath, ondervoorsitter van die kommissie, het Dinsdag (06/12) drie klagte by die Parkweg-polisiekantoor ingedien.
Dit is klagte van kwaadwillige saakbeskadiging, diefstal en die statutêre oortreding ingevolge die Erfeniswet.
Die bronsletters “Christiaan Rudolph de Wet” en die jaartal 1854-1922 is van die voorkant van die standbeeld in Pres. Brandstraat se sandsteenbasis verwyder.
Willie Engelbrecht, sekretaris van die kommissie, sê die kommissie oorweeg nou ’n alternatief vir brons om die letters mee te vervang en dit só veiliger te hou teen die vlaag diefstal en vandalisme van monumente in Bloemfontein.
“Ons ondersoek nou die moontlikheid om die standbeeld te omhein en saans te belig.”
Engelbrecht sê Jan-Danie Malan van die FAK het hom van die diefstal van die letters ingelig nadat hy dit gesien het in ’n nuusberig op Bloemnuus se landingsblad op Netwerk24.
Malan sê hulle is dankbaar vir Bloemfonteiners wat ’n bydrae gelewer het om die oorblywende bronsplate teen die senotaaf op Hoffmanplein af te haal en veilig te berg nadat 17 van die plate gesteel is.
Standbeelde en bronsversierings aan standbeelde is die afgelope tyd deur vandale en diewe beskadig.