Erfenisbewaring hoog op prys gestel

Die toekenning van eerbewyse aan verdienstelike Bloemfonteiners was vanjaar weer die hoogtepunt van die Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad (BAK) se jaarlikse bedrywighede.


Die toekenning van eerbewyse aan verdienstelike Bloemfonteiners was vanjaar weer die hoogtepunt van die Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad (BAK) se jaarlikse bedrywighede.

Op die BAK se jaarvergadering op 22 November in die AP kerk Bainsvlei het voorsitter Willie Engelbrecht sy dank uitgespreek teenoor almal wat vanjaar ’n bydrae tot dié spesiale geleentheid gelewer het.

Vanjaar het adv. Colin Steyn, dr. Joanita Erasmus-Alt en Deon de Jager op ’n geselligheid op 13 Oktober in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke eerbewyse ontvang.

Steyn is vereer vir sy bydrae tot die bevordering van die Afrikanergeskiedenis en bewaring van die Afrikaner-erfenis.

Erasmus-Alt, ’n onderwysers aan die Hoërskool Fichardtpark en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, is vir haar bydrae tot musiek en kreatiewe skryfwerk in Afrikaans vereer.

De Jager is vereer vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaanse kerkmusiek en die sangopleiding van jongmense.

Die BAK is ’n oorkoepelende organisasie vir kultuurorganisasies in die stad.

Lede het op die jaarvergadering onder meer hul kommer uitgespreek oor die vandalisering van monumente en ander bakens van kultuurerfenis in die stad.

Die BAK werk saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) om ’n lys van erfenismonumente en -terreine op te stel sodat die bewaring daarvan bevorder kan word.

Die bestaande komitee is op die vergadering herkies, met Engelbrecht van Die Voortrekkers as voorsitter, Marda Oost­huysen van Dameskring as ondervoorsitter, prof. Barry Frey van die Oranje Rapportryers as sekretaris, Karn Botha van Dameskring as tesourier en Marius de Vos van die Koördinerende Afrikaner Raad as bykomende lid.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.