’n Mooi bedrag van R17 300 ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds is op Dinsdag 24 September op Erfenisdag in Bainsvlei ingesamel.
’n Veiling van skilderye was deel van die aktiwiteite wat die dag by die nuwe kuierplek, die Watergat, aangebied is.
Saam met die veiling kon motorfietsryers ’n plakker teen R100 koop waarby ’n ontbyt ingesluit is. Geld uit verkoop van die plakkers sal ook aan die fonds geskenk word.
Soon van den Berg en Stefan Kruger, eienaars van Die Watergat wat in April in Bainsvlei oopgemaak het, sê dit was lekker om ’n geldinsameling ten bate van die Kersfonds hier aan te bied.
Sowat 120 motorfietsryers en ander gaste het die Kersjol bygewoon.
Die Watergat het ook ’n potjiekoskompetisie aangebied.
Betsie Roux, organiseerder van dié Kersfonds-veiling, het die mans van Die Watergat bedank wat hul geriewe beskikbaar gestel het.
“Die veiling van die skilderye se opbrengs waarvan ’n gedeelte van die kommissie deur Bainsvlei-afslaers aan die fonds oorbetaal word, was ‘n groot sukses,” sê Roux.
“Ons sien uit om soorgelyke projekte in die toekoms saam met die eienaars van die Watergat aan te bied.”
’n Veiling van antiekeware en ’n verskeidenheid voorraad word op Saterdag 28 September om 10:00 by Bainsvlei-afslaers se nuwe perseel net voor die indraai vanaf die R64 na Piet Odendaalweg in Bainsvlei plaas.
Rig navrae oor die veiling aan Roux by 082-413-9275.