Ernstige misdade vier hoogty in Bloemfontein

Rooftogte by huise wat met 33% tot 167 gevalle van April tot Junie toegeneem het, is een van die kommerwekkende statistieke wat die minister van die polisie, Bheki Cele, Vrydag (18/08) bekend gemaak het.


Rooftogte by huise wat met 33% tot 167 gevalle van April tot Junie toegeneem het, is een van die kommerwekkende statistieke wat die minister van die polisie, Bheki Cele, Vrydag (18/08) bekend gemaak het.

Veral kommerwekkend is dat Parkweg steeds die polisiekantoor in die land is waar die sesde meeste ernstige misdade aangemeld word en die polisiekantoor in die provinsie met die meeste aanmeldings.

In die tydperk 1 April tot 30 Junie is daar 1 882 gevalle van ernstige misdaad in die gemeenskap by Parkweg aangemeld.

Leona Kleynhans, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Vrystaatse wetgewer, sê dié polisiekantoor se verbeterings het boonop weer tot ’n stilstand gekom weens wanbetaling deur die departement van openbare werke.

In ’n nuusverklaring sê Kleynhans die DA het wetgewing wat gemeenskapspolisiëring reguleer in die Vrystaatse Wetgewer voorgestel waarin beter ondersteuning en koördinering tussen gemeenskapspolisiëringsforums, woonbuurtvereniging en gemeenskapspatrolleerders bewerkstellig kan word.

“Ons is gefrustreerd dat hierdie wetgewing in die wetgewing vertraag word omdat dit kan help om die bekamping van misdaad in gemeenskappe en landelike gebiede te verbeter. Dit is duidelik dat die polisie weens jare se tekort aan hulpbronne en wanbestuur, die geveg teen misdaad in die Vrystaat nie alleen kan veg nie.”

Een van die probleme met misdaadstatistiek in Suid-Afrika is dat al die misdaad nie aangemeld word nie. Een van die groot uitdagings is inwoners wat moedeloos is omdat hulle nie kan sien dat aanmeldings ’n verskil maak om misdaad te bekamp nie.

Charnel Hattingh, hoof van Fidelity Service Group se kommunikasie en bemarkingsafdeling, sê wanneer iemand deur misdaad geraak word, moet dit nie bloot net op sosiale media platvorms en op WhatsApp-groepe gedeel word nie.

“Dit is belangrik dat insidente by die betrokke polisiekantoor aangemeld word sodat dit deel van misdaadstatistiek kan word,” sê Hattingh.

Sy waarsku dat misdadigers wat betrokke is by minder ernstige misdaad, dikwels met tyd betrokke raak in ernstige misdaad. Iemand kom dalk jare weg met oortredings soos selfoondiefstal wat niemand ooit aanmeld nie en word later vir ernstige misdaad aangekeer, sonder die lys van sake wat dalk teen hom gemaak kon word nie.

“Dit is waarom die aanmeld van misdaad so belangrik is. Ons sien geen misdaad as gering nie en die publiek moet ook nie. Onthou dat kriminele met ander kriminele meng. Die in hegtenisneming van een handsakdief kan lei tot die in hegtenisneming van gesoekte misdadigers wat met allerlei misdade verbind kan word.”

Sy sê misdade wat nie aangemeld word nie, lewer geen bydra tot die bekamping van misdaad in die land nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.