Die koor van Eunice High School is die enigste in die Vrystaat wat na die eindronde deurgedring het van die ATKV-Applous-kompetisie wat van 30 Julie tot 2 Augustus in Pretoria aangebied word.
Dit kom nadat die koor op 12 Mei by die Hoër Meisieskool Oranje aan die streekfees deelgeneem het. Vyf hoërskool- en nege laerskoolkore het hier deelgeneem.
ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, en vanjaar word die eindronde van hierdie toonaangewende kompetisie ‘n 48ste keer aangebied.
Die eindronde, wat oor vier dae strek, word in die Z.K. Matthews-saal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in Pretoria aangebied.
In 2025 het ‘n indrukwekkende 292 kore, deur meer as 20 000 hoër- en laerskoolleerlinge verteenwoordig, hulle vir die kompetisie ingeskryf.
Die ATKV-Applous-span, vergesel van ‘n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, het in Mei na 18 bestemmings oor Suid-Afrika en Namibië heen gereis met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Volgens Renette Bouwer, beoordelaar van die landswye streekfeeste, verhef ATKV-Applous Suid-Afrikaanse koorsang tot nuwe hoogtes.
Sy sê dat ander deelnemers aan internasionale koorkompetisies geïntimideerd is deur Suid-Afrikaanse kore, danksy die hoë gehalte van koorsang wat deur ATKV-Applous aangespoor word.