
Gemma Deutschmann
Verskaf
Boodskappe van skok en groot hartseer is die afgelope paar dae op Debbie en Michael Deutschmann se Facebookblad geplaas nadat hul dapper dogtertjie Gemma (13) Sondag (14/03) in Bloemfontein oorlede is. Ondanks sewe spesialiste wat die naweek onverpoos probeer het om dié gr. 8-leerling van die Eunice High School se lewe te red, is sy Sondag weens diabeteskomplikasies dood.
Debbie sê dit was nie vir haar en Michael vreemd toe hul enigste dogter verlede week in die hospitaal opgeneem is nie. Albei was uitstedig tydens Gemma se opname, wat sedert begin vanjaar in die koshuis gebly het.
Michael sê Gemma was in haar 13 jaar altesaam twee jaar in die hospitaal. “Sy was so gemaklik daar. Toe ons hoor sy is in die hospitaal, was ons nie bekommerd nie.”
Gemma is met hiperinsulinisme gebore, ’n seldsame siekte waar die pankreas te veel insulien afskei. Die grootste deel van haar pankreas – 95% – is in ’n hospitaal in Londen verwyder toe sy maar vyf jaar oud was.
Vyf jaar lank het sy daarna normaal gefunksioneer. Toe moes die Deutschmanns die moeilike besluit neem om nóg 3% te verwyder omdat haar insulienvlakke te veel gefluktueer het, wat daartoe gelei het dat sy diabetes ontwikkel het.
Gemma was ook al in ’n hospitaal in Oostenryk om haar van voedingsbuise af te kry. Dit is danksy geld wat deur mense oor Suid-Afrika heen geskenk is.
Dr. Christiaan Diffenthal, ’n pediater van die Mediclinic Bloemfontein, was deurentyd haar dokter, al het Gemma ouer geraak. Haar fluktuasies was Saterdag buitengewoon hoog, sy het gebraak en was ontwater. Skielike orgaanversaking het gevolg en sy is aan ’n ventilator gekoppel.
“Toe ek daar aankom, wou die verpleegsters nie te veel sê nie, maar sy is al deur so baie dat ek gedink het sy sal hierdeur ook kom.”
Michael glo vas Gemma se gesondheid het weens angstigheid agteruit gaan. Sy was sedert die begin van die jaar in die koshuis, wat bygedra het tot verhoogde spanning. Die gesin se opset het weens die inperking verander. Hulle het ’n gastehuis in Lesotho en moes vir lang tydperke daar bly.
Toe Diffenthal Saterdag vir Michael sê hulle het haar amper verloor, het die erns van haar toestand hom getref. ’n Spesialis van buite het gekom om ’n nierdialise te doen. ’n Kardioloog is ook vir haar hart ingeroep. “Teen daardie tyd was haar voete spierwit, haar bene vol vlekke en daar was kommer oor haar bloedvloei.”
Later die dag het haar syfers beter gelyk, maar Sondag om 08:00, kort nadat haar ouers opgedaag het, het haar organe ingegee.
“Sy was só ’n vegter. Daar was al vier of vyf kere sedert haar geboorte waar sy regtig amper gesterf het, waar sy deurgedruk het,” sê Michael.
“Sy het as baba pypies in haar neus gehad en is ook so weg uit ons lewe uit. Ons hou daaraan vas dat sy nou sonder pyn is. Ons moet, want dit is baie moeilik.”
Debbie sê Gemma het nooit ’n dag sonder ’n glimlag op haar gesig deurgebring nie. “Ons verhouding was soms wankelrig, maar tuis kon sy net haarself wees.”
Michael sê omdat haar lewe so anders was, het die ervarings haar baie volwasse gemaak.
“Sy kon gemaklik met volwassenes praat en het baie wêreldkennis opgedoen.”
Gemma was in ’n stadium vierde gekeur vir die Vrystaatse junior muurbalspan en het ook die hoofrol in een van die akteur en regisseur Xander Steyn se toneelstukke gespeel.
Sy laat ook twee broers, Bryce en Thabo, en grootouers agter. Die roudiens is Donderdag (18/03) om 15:00 by Tuscan Rose in Bainsvlei.