Regs hardloop Bianca Rees-Gibbs met die bal in Dinsdag (08/08) sy eindstryd teen Oranje in die stadsliga. Bianca is nog ’n o.16-speler, maar speel vir Eunice se eerste span. Sy is ook in die Suid-Afrikaanse o.16-span ingesluit.Foto: Reinier Brönn


Die hokkiespelers van Eunice High School het Dinsdag (08/08) in die Bloemfontein-stadsliga koning gekraai en in die o.14- en eerstespan-afdeling gewen. Die twee spanne, asook die o.16-wedstryd is gespeel teen die die spanne van die Hoër Meisieskool Oranje.

Na aanleiding van dié uitslag word groot opwinding weer vir die Fairtree Super 12-reeks voorspel wat vandag by Oranje begin. Hier sal die beste hokkieskole in die land dit om die plek as die topskool uitspook. Oranje het die kompetisie al ses uit die sewe keer gewen en is die verdedigende kampioen.

In die ligawedstryd Dinsdag het Eunice en Oranje gelykop 1 elk gestaan en moes daar uitgespeel word om die wenner te bepaal. Eunice se eerste span het dié van Oranje met die uitspeel met 4 – 3 geklop om as die kampioen van die stadsliga gekroon te word.

In die groepfase van die stadsliga was die telling tussen dié twee spanne ook gelykop: 2 – 2.

Die twee skole spog met 11 Suid-Afrikaanse spelers (vyf vir Eunice in die o.16- en o.18-ouderdomsgroep) en ses vir Oranje (o.16 en o.18).

Die twee skole se eerste spanne het altwee al vanjaar ’n groot toernooi gewen. Eunice het in die halfeindstryd van die St. Mary’s-toernooi vir Oranje geklop en in die eindstryd teen St. Mary’s gewen.

Op die nasionale All Girl’s Festival wat kort daarna aangebied is, het Oranje weer vir Rhenish geklop om dié toernooi te wen.

In die o.14-afdeling was daar ook ’n uitspeelspel nadat die telling aan die einde van die wedstryd op 1 elk gestaan het. Eunice het Oranje met 4 – 2 geklop.

Hierdie span was ook vanjaar die Rising Stars-kampioen.

Oranje se o.16-span het Eunice in ’n taai eindstryd met 2 – 1 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.