Mediese afval, soos sakkies waaruit binneaarse voeding aan pasiënte gegee word, medisyne en spuitnaalde, lê in die gebou agter die Nasionale Hospitaal. Foto’s: Lientjie Mentz


Die vuil kosbakkies van etes wat in die Nasionale Hospitaal aan pasiënte bedien word, lê saam met mediese afval in hope gestrooi oor die vloer van die leë gebou aan die agterkant van dié hospitaal.

Terwyl misdaad hier inwoners van George Home-straat in Bloemfontein se lewe versuur, aanvaar nie die departement van gesondheid of die departement van openbare werke aanspreeklikheid vir die gebou nie.

Jafta Mokoena, Vrystaatse parlementslid van die DA verantwoordelik vir openbare werke, sê die departementshoof van openbare werke in die Vrystaat, Ernest Mohlahlo, het op ’n vergadering gesê die gebou, insluitend die veiligheid en onderhoud daarvan, is aan die departement van gesondheid terugbesorg.

Die gebou is glo ’n hele paar jaar gelede deur die laasgenoemde departement opgerig, met die doel om familielede van pasiënte te huisves. Dit is egter nooit in gebruik geneem nie, en hawelose mense neem gereeld hul intrek.

Aan die ander kant het Mohlahlo in ’n boodskap aan Mokoena gesê die departement van openbare werke het ontwerpe laat doen vir die oprigting van kantoorgeriewe op die perseel.

Intussen kom soek private veiligheidsondernemings gereeld hier na gesteelde goedere wat uit huise in die omgewing gebuit word, en mense is al hier in hegtenis geneem.

Die draad langs George Home-straat is platgetrap en ’n paadjie is deur die lang gras getrap tot by die gebou.

’n Dubbele veiligheidsheining is tussen die hospitaal se terrein en die gebou opgerig, maar boosdoeners het hierin ’n groot gat gemaak om tussen die gebou en die hospitaal te beweeg.

Manie de Klerk, van AfriForum sektor 3, sê vroeër vanjaar met hul besoek aan die perseel het sewe mense in die gebou geslaap en vuur gemaak.

“Ons het al wapens soos stokke en messe hier gekry. Hier word gereeld goedere wat met huisinbrake verband hou, gekry.”

De Klerk sê hulle het ook al koperpype hier gekry.

Christo Groenewald, distriks­koördineerder van AfriForum in Bloemfontein, sê plekke soos hierdie verhoog die misdaad in ’n gebied.

Een van die inwoners van die straat vertel dat daar vir lank gereeld motors hier by die beskadigde heining stilgehou het, en hulle vermoed daar is met dwelms handel gedryf.

Inwoners is nie seker of daar nou mense hier woon nie, maar daar is beslis bewyse van mense wat onlangs nog hier geslaap het.

You need to be Logged In to leave a comment.