‘n Geliefde Suid-Afrikaanse komponis Chris Lamprecht (97) se waardevolle versameling musiekstukke, persoonlike publikasies en memorabilia is onlangs deur sy seun, Charl Lamprecht, aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geskenk.
Dié skenking, wat nou deel vorm van die FAK-versameling in die argief van die Erfenisstigting (ES), is ’n kulturele skatkis wat van Lamprecht se lewenslange toewyding aan Afrikaanse kerkmusiek en kultuur getuig. Die argief is op die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria geleë.
Die versameling bevat hoofsaaklik bladmusiek, insluitend oorspronklike werke in Lamprecht se eie handskrif, asook publikasies oor sy werk, foto’s en CD’s.

Lamprecth is is op 1 Oktober 1927 in Bloemfontein gebore, waar hy aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer het. Hy het die BMus-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, en is later na Herford in Duitsland waar hy aan die plaaslike Kirchenmusikschule opleiding ontvang het in komposisie, koorleiding en sang. Hy het sy MMus-graad in 1973 aan die Universiteit van Pretoria behaal.
Lamprecht was onder meer direkteur van die NG Kerk se kerkmusiekskool wat later by die musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria ingeskakel is.,
Hy was ook hoofkultuurbeampte vir musiek in die Departement Nasionale Opvoeding, direkteur van die Universiteit van Pretoria se kultuurburo asook hoof van dieselfde Universiteit se musiekdepartement, waar hy senior orreldosent was.
“Om ’n versameling soos dié in die ES-argief te huisves, is ’n reusevoorreg. Dit is nie net ’n skatkis van musiek nie, dit is ’n lewende getuienis van ’n man wat die Afrikaanse siel oor etlike dekades met toon en tempo aangeraak het,” vertel Petra Luus, argivaris van die ES.
’n Spesiale deel van die versameling is ’n kortverhaal getiteld “Klawerliefde”, waarin Lamprecht op innemende wyse vertel van sy liefde vir ’n spesifieke klavier – ’n verhaal wat sy liefde en verhouding met musiek vasvang.
Een van die betekenisvolste items in die skenking is die oorspronklike FAK-Prestigetoekenning wat Lamprecht in 1989 vir sy bydrae tot musiek ontvang het. Lamprecht se indrukwekkende nalatenskap is reeds op verskeie geleenthede deur die FAK vereer. In 2016 het hy die Andrew Murray-toekenning vir gewyde musiek ontvang vir sy uitstaande bydrae tot die bevordering van Afrikaanse kerkmusiek. Dit was die eerste keer dat dié gesogte eerbewys oorhandig is. Op 16 Maart vanjaar het die FAK weer eens sy diepe waardering vir sy lewenswerk betoon deur nog ’n toekenning aan Lamprecht te oorhandig.
Lamprecht se indrukwekkende loopbaan in koor- en kerkmusiek strek oor dekades. Hy spog ook met verskeie ander toekennings en gesogte pryse wat hy al vir sy werk ontvang het. In die FAK-Sangbundel van 1979 is 52 van sy verwerkings van volksliedjies opgeneem, asook twee splinternuwe komposisies. Ter viering van die 50ste herdenking van die Afrikaanse Bybel in 1983, het die FAK versoek dat hy Psalm 8 as ’n koorstuk verwerk.
Sy bydrae tot die bewaring van die Afrikaanse musiekerfenis strek egter verder as die FAK-Sangbundel. Hy het meer as 800 volksmelodieë uit Suid-Afrika en Namibië versamel, waarvan 250 deur die SAUK in die radioreeks Dit kom van ver af (1970–1975) uitgesaai is. Uit hierdie omvattende versameling is 52 verwerkings gekies en ingesluit in die 1979-Sangbundel, wat vandag steeds as ’n hoeksteen van Afrikaanse koormusiek beskou word.
Volgens Barry Müller, nasionale hoof: gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte van die FAK, is Lamprecht se musiek diep gewortel in die Afrikaanse kultuur.
“Sy komposisies leef in die harte van miljoene mense wêreldwyd en word daagliks geneurie, dikwels sonder dat die oorsprong daarvan besef word.
“Met hierdie skenking vier ons nie net ’n musikale nalatenskap nie, maar ook die lewe van ’n man wie se werk vandag nog mense nader aan hul Skepper bring. Chris Lamprecht is, en bly, ware volksbesit,” het Müller gesê.
Lamprecht het sy vrou, Elza, woon deesdae in George.



You must be logged in to post a comment.